Nuwe era vir erfenisbestuur in Stellenbosch

27 Februarie 2015

Vier landskappe in Stellenbosch se kern moet as belangrike kulturele erfenis bestuur word, aldus Erfenis Wes-Kaap, wat pas die eerste fase van die Stellenbosse erfenisopname goedgekeur het, met verskeie voorstelle vir wysigings op en ook uitbreiding van die opname.

Dié goedkeuring van die opname van sowat 530 geboue in Stellenbosch se middedorp is ’n betekenisvolle stap vorentoe vir doeltreffende erfenisbestuur. Dit is tegelyk ontwikkelingsvriendelik. Omdat dit binne die vereistes van Suid-Afrikaanse wetgewing en ook binne algemeen aanvaarde internasionale praktyke afgehandel is, gee dit vooraf groter sekerheid aan eienaars en ontwikkelaars. Hulle weet nou vooraf beter wat ten opsigte van geboue van ’n bepaalde gradering toelaatbaar kan wees, en wat nie.

Die eerste fase van die opname omvat die middedorp van Stellenbosch. In die volgende fases sal die res van Stellenbosch, die distrik, en ook Franschhoek gedoen word.

Erfenis Wes-Kaap het voorgestel dat vier omgewings bo en behalwe die gradering van spesieke geboue, ook as samehangende kulturele landskappe gedokumenteer en bestuur word. Dié vier landskappe is:

  • Die Braak en die Rynse Kompleks, met insluiting van Kruithuis en die twee kerke op die Braak
  • Dorpstraat en vertakkings
  • Die boonste gedeelte van Kerkstraat, Ryneveldstraat en Drostdystraat, met insluiting van die Moederkerk, die Kweekskool en Stellenbosch Museum
  • Coetzenburg se ou werf.

Erfenis Wes-Kaap se aanbeveling is dat die Braak en die Rynse Kompleks ’n Graad I Nasionale Landskap is, wat beteken dat dit ook regstreeks onder die jurisdiksie van die Suid-Afrikaanse Erfenisagentskap val.

Die_Braak_Rhenish_Complex_Map_With_Text

Dorpstraat; die nodus van die museum/kerk en kweekskool; en Coetzenburg se werf is elkeen ‘n Graad II kulturele landskap. Die waarde van geboue en strukture in dié landskappe word onder meer ook deur die waarde van die volle landskap bepaal. Graad II landskappe val onder die jurisdiksie van Erfenis Wes-Kaap.

Erfenis Wes-Kaap het verder voorgestel dat bome van belang ook in die opname ingesluit word.

Eienaars en belanghebbendes sal nou in kennis gestel word van die goedkeuring of wysigings van die aanbevole graderings, om die laaste fase van die openbare deelname van die opname af te handel. Die Stellenbosch Erfenis Stigting, wat die opname ingedien het, sal die nodige wysigings aanbring aan die elektroniese weergawe van die opname, om die finale graderings weer te gee, sowel as die nuwe afdelings vir bome en vir die vier kernlandskappe.

Die Stigting sal later vanjaar ook ’n seminaar aanbied, waar lede en belangstellendes ’n oorsig kan kry van nuwe tendense in die bestuur van erfenislandskappe, asook nuwe insigte ten opsigte van die funksie en waarde van erfenis binne ’n groter konteks van sosiale- en ontwikkelingsbehoeftes.

Die Stigting steun volhoubare bewaring van erfenis en innoverende argitektuur en stedelike ontwerp. Ons is bewus dat ons voortdurend ons bestaande aannames en praktyke krities moet ondersoek, as ons steeds relevant wil wees. Die beste eietydse ontwerp moet eindelik as deel van ons gedeelde erfenis kan oorleef.

Die Stigting, in samewerking met die Stellenbosch Munisipaliteit, beplan verder om die erfenisopname en ook ander inligting meer toeganklik en deurlopend beskikbaar te maak. Munisipale amptenare, inwoners en besoekers moet op rekenaar en ook op mobiele toestelle lewendige inligting kan kry. Terwyl die eienaarskap van party inligting, soos sonering of gradering, teen ongemagtigde wysigings beskerm moet word, moet soveel inligting moontlik slim en ter sake interaktief wees.

Erfenisopnames is ’n wetlike verpligting vir plaaslike owerhede. In Stellenbosch dien die afhandeling van die eerste fase van die opname as ’n voorbeeld van goeie en innoverende samewerking tussen die burgelike gemeenskap en die Munisipaliteit.

One thought on “Nuwe era vir erfenisbestuur in Stellenbosch”

  1. Andreas van Wyk says:

    Dit is uitstekende nuus. Die huidige toestand van die Braak is ‘n skande vir ons dorp. Hierdie goedkeuring is hopelik ook die begin van die aanspreek van die informele handelaars op die Braak. Dat dit op ‘n menslike maar verantwoordelike en omgewingsvriendelike manier gedoen kan word wat nie die mense se beskeie inkomstes benadeel nie, word getoon deur Hermanus se middedorp.

    Die “Kersversierings” wat heeljaar daar hang en staan is jammerlik.

Leave a Reply