Stirling-prys kortlys

15 Augustus 2017

Ses projekte ding mee om die Stirling-prys 2017, die mees gesogte argitektuurprys in Brittanje. Die Koninklike Instituut van Briste Argitekte (RIBA) maak die toekenning aan die gebou “wat die grootste bydrae gemaak het tot die evolusie van argitektuur in ’n gegewe jaar”.

Die finaliste is gekies uit die lys van nasionale pryswenners.

Volgens RIBA se president, Jane Duncan, is die geboue produkte van hul tyd sonder enige onnodige ekstras in die ontwerp. “Opdrag vir die geboue is gegee aan die einde van die resessie en daarom is dit ’n erkenning aan ’n kreatiewe bedryf op sy kruin. Elkeen van die uitmuntende projekte het hul plaaslike omgewing omvorm en gee vreugde aan diegene wat gelukkig is om dit te besoek, daar te woon, studeer of werk.”

Die wenner van die Stirling-prys word op 31 Oktober bekend gemaak.

Die geboue op die kortlys is:

Barrett’s Grove deur Groupwork + Amin Taha
Barrett’s Grove is ’n woonstelblok met, aldus die beoordelaars, “materiale so reg uit ’n sprokie: baksteen, hout en strooi.” Die kwaliteit en vakmanskap van die afwerkings is erken en die gebou self is beskryf as ’n “groot huis verdeel in baie tuistes” eerder as ’n woonstelblok. Vir die gebou se buitekant vorm die baksteen ’n unieke patroon afgewissel met rottangwerk balkonne.

Timothy Soar

British Museum World Conservation and Exhibitions Centre deur Rogers Stirk Harbour + Partners
As ‘n deel van die British Museum-kompleks, staan hierdie gebou in Bloomsbury, Londen. Die komplekse opdrag en die slim wyse waarop die ruimtelike uitdagings, tegniese behoeftes en ingenieurs-tegnologie aangespreek is, het lof ontvang. Daar is vyf ruimtes wat vertikaal met mekaar geskakel is, naamlik’n n nuwe uitstallingsgalery, laboratoriums en bewaringstudios, stoorruimte en fassiliteite om die Museum se logistieke behoeftes en leenprogramme te huisves.

Paul Raftery

Command of the Oceans deur Baynes and Mitchell Architects
As besoekersentrum en nuwe ingang tot ‘n groep historiese geboue, verskil hierdie gebou opvallend van die bestaande en vang onmiddellik die oog. Die verskil in materiaalgebruik, kleur en selfs dakhelling oorskadu nie die historiese geboue nie. Die beoordelaars het opgemerk: “Die beskeie ingang is onmiddellik sigbaar vir die besoeker met aankoms in die parkeerarea; en tog, in ’n sekere lig lyk dit amper asof dit verdwyn en ondergeskik word aan die aanliggende strukture.” Die gebou het ook RIBA se streekstoekenning vir bewaring ontvang vir die sensitiewe wyse waarop dit met die bestaande geboue omgaan en die “diep begrip van die histories belang van hierdie groep geboue”.

 

City of Glasgow College – City Campus deur Reiach & Hall Architects en Michael Laird Architects
City Campus is een van twee nuwe kampusse vir die City of Glasgow College. City Campus is meer as 60 000m2 in grootte en bring ses belangrike fakulteite byeen in 300 hoë tegnologie klaskamers, veeldoelige lesingsale en spesialis onderrig fassiliteite. ‘n Baie uitdagende opdrag en die beoordelaars is beïndruk deur die “aansienlike argitektoniese vaardigheid getoon in die uitvoer daarvan; nie net in die uitvoer van die opdrag nie, maar ook as bydra tot die stad – in grootte, komposisie en die ruimhartigheid van die openbare ruimte binne die groot atrium. Die argitektoniese vaardigheid strek verder as die stadslandskap, met besondere sorg geneem in die organiseer van studente ruimtes, wat sosiale interaksie oor verskillende dissiplines aanmoedig, tot by die gebruik van materiale en detailering.”

 

Hastings Pier deur dRMM Architects
Die beoordelaars het gevind: “Dit het sewe jaar van heldhaftige samwerking geneem om ‘n pier in onbruik en verval in ‘n vrolike openbare ruimte met ‘n besliste gevoel van eienaarskap. Hierdie samwerking was tussen die gemeenskap, die stadsraad, die ingenieurs en die argitek, en dit is die argitek se visie wat deurslaggewend was in die stuur van die proses. Ná uitgebreide konsultasie met belangegroepe het dRMM gemeen dit is duidelik die pier sal ‘n verskeidenheid rollle moet vervul.” Om soveel verskillende belangegroepe tevrede te stel, almal met uiteenlopende verwagtinge, ”was laterale denke nodig”. Boonop is die projek betaal deur skarefinansiering, ’n proses waarby die argitekte ook betrokke was.

Alex de Rijke

Photography Studio for Juergen Teller deur 6a architects
Die projek bestaan uit drie geboue: ’n nuwe studio, kantore en argief. Die opdrag het gevra vir lig-gevulde, veranderlike ruimtes, infomeel en verwelkomend, soos benodig deur die fotograaf vir wie die gebou is. Die lang, maer terrein het ’n ontwerp tot gevolg gehad waar noorderlig ingebring is deur daklige en drie binnehowe. “Detailering regdeur is besonders: van die in-situ beton van die trappe, tot die soomlose koperbalustrades. Groot maar ligte houtvensterrame dra by tot ’n andersins minimale palet van materiale. Die gebou is ’n voorbeeld van materiaal eerste en lae-energie ontwerp. Die ineenskakeling van dienste is uitmuntend hanteer,” het die beoordeaalrs gevind.

Johan Dehlin

Leave a Reply