Nuwe poging om uitwis van kulturele erfenisse te verstaan

21 Februarie 2017

Die webwerf Aggregate het pas ‘n nuwe versameling essays, The Destruction of Cultural Heritage: From Napoléon to ISIS, gepubliseer waarin daar gepoog word om die vernietiging van geboue, monumente en artefakte in die Midde-Ooste in konteks te plaas.

‘n Gebou wat vernietig is tydens die Irak-Iran oorlog (1980–1988), Abadan, Iran.

Aldus die webwerf ondersoek die essays die vernietiging van monumente in die Midde-Ooste sedert die Napoleontiese tye tot nou. Ook die impak daarvan – op die menslike psige, geskiedenis, filosofie en kultuur – word belig. ’n Belangrike faktor is die rol van die media in hierdie gebeure – nie net in die vernieting self nie, maar in boodskappe wat versprei word om persepsies te skep en te versterk.

Buite Vernietiging 1: Argeologie & Kulturele Erfenis in die Middel Ooste

Beeldstormery of ikonoklasme het ‘n baie langer geskiedenis in die Weste as in die Arabiese en Moslem-wêreld, lui die inleiding. Diegene wat daarom die vernietiging van kulturele erfenisse in die Midde-Ooste wil gebruik om ‘ons’ (lees Westerse) waardes teenoor ‘hulle’ (Moslem) manier van doen te stel, sit die pot mis. Volgens geskiedkundige bewyse was Moslem lande nog altyd meer verdraagsaam teenoor ander gelowe as, byvoorbeeld, die Christelike geloof.

En waar die Westerse media fokus op die vernietinging van monumente, geboue en artefakte uit die pre-Moslem era, wys kenners daarop dat ISIS baie Moslem-artefakte ook vernietig het. Die area wat tans deur ISIS beheer of bedreig word – die sogenoemde Levant, wat insluit Sirië, Libanon, Jordanië Israel en die Palestynse gebied, asook Noord-Irak (antieke Mesopotamië) – het boonop ‘n baie gelaagde geskiedenis met verskillende kulture en gelowe wat oor die eeue heen daar gewoon en geheers het.

Die essays is in twee dele verdeel: die eerste fokus op uitwissing en wat daarop volg, terwyl deel twee ondersoek instel na beskawing, barbaarsheid en dade van geweld teenoor lewelose objekte.

 

Leave a Reply