Erfenis in die spervuur

30 Mei 2021

In die afgelope paar jaar het erfenis en meer spesifiek die verhouding tussen erfenis en die samelewing dikwels in die nuus verskyn en in alledaagse gesprekke opgesyfer. Dit het weer gebeur toe die onlangse vuur in Kaapstad onder andere die Universiteit van Kaapstad se Jagger Leeskamer en dele van die biblioteek, Fuller Huis, Cadboll Huis, Mostert se Meul en hektare fynbos teen die hange van Tafelberg vernietig het.

Firefighters trying to extinguish a fire in the Jagger Library, at the University of Cape Town. Rodger Bosch/AFP via Getty Images

Daar was geen lewensverlies nie. Wanneer vure so ontembaar versprei en erfenis vernietig, dwing die skielike aard van hierdie verlies mens om te reflekteer oor die waarde van dit wat verlore is. Erfenis, beide natuurlik en mensgemaak, bind ons aan gemeenskappe, omgewing, geskiedenis en die waardes wat ons vandag kies om in die toekoms te handhaaf. Daarom word ons weerloosheid uitgelig en ons bande met geskiedenis en die toekoms swakker wanneer erfenis vernietig word.

Die 200-jaar oue Jagger biblioteek en leeskamer is erfenis wat uit verskillende lae bestaan – die geboue is opsigself erfenis, maar dit huisves ook ‘n unieke reeks erfenistekste. Dit sluit die versameling tekste oor Afrika-studies in, ook die deur Neville Alexander, IB Tabata, die Black Sash en die versameling Bleek dokumente oor die San en Khoisan kulture. Hierdie onvervangbare tekste verteenwoordig die breë samelewing – pamflette deur aktiviste, notules van korporatiewe vergaderings, oorspronklike musiek-manuskripte, die tekeninge van argitek Herbert Baker en verskeie tesisse. Hierdie verskeidenheid tekste is in gesprek met mekaar en diegene wat die biblioteek besoek. Sarah Emily Duff, ‘n historikus wat spesialiseer in Suid-Afrikaanse geskiedenis, en by Colby Kollege in Maine gebaseer is, skryf die “archive is special for all sorts of reasons, and for me it’s because it includes collections which provide a record of the ordinary lives of ordinary people in the area — from working-class children to Black students attending night school.” Alhoewel algehele verlies van die Afrika-studies versameling verwag is, was die verlies net gedeeltelik, maar die volledige Afrika film versameling is vernietig.

Dr Martha Evans, ‘n dosent in media studies by die Universiteit van Kaapstad het gesê dat die leeskamer haar kerk was, ‘n spasie wat dit kon regkry om die hedendaagse verskille binne die instituut te oorbrug. Dr Ian-Malcolm Rijsdijk, ‘n dosent in film en televisiestudies, het aan TimesLIVE gesê dat die verliese nie net fisiese materiaal was nie, maar ook die verlies aan ‘n spasie in die ekologie van leer.

Outomatiese hortjies het die biblioteek se kosbaarste items beskerm, maar die omvang en dokumentasie van die verlies gaan voort. Tegnologie het ook ‘n positiewe bydrae gemaak waar daar reeds digitale kopieë van items voor die brand gemaak is. Die nie-amptelike geraamde verlies word op R1 biljoen geskat.

Die vuur in Kaapstad het ook die wisselwerking tussen kulturele en natuurlike erfenis beklemtoon. Natuurlike erfenis is vernietig in die vorm van plantegroei teen die hange van Tafelberg waar die vuur begin het. Terselfdetyd is navorsing oor hierdie natuurlike erfenis deur die vuur vernietig. Die Universiteit van Kaapstad se Bolus Herbarium in die Pearson-gebou (gebou in 1865) het oorleef, maar die die vuur het die Plant Konservatorium Eenheid gedeeltelik beskadig. Hier bestudeer navorsers gefossiliseerde stuifmeel as deel van ‘n proses om klimaatsverandering beter te verstaan.

In hul artikel oor die oorsake van veldbrande soos die een in Kaapstad, skryf navorsers Brain van Wilgen en Nicola Bredenkamp die noodsaaklikheid om die oorsake van brande te bepaal om sodoende die oorsake soveel as moontlik te elimineer. Volgens hulle is veldbrande die onafwendbare gevolg van drie faktore wat gelyktydig op mekaar inspeel: weersomstandighede wat die ontstaan en verspreiding van vure bevorder; genoeg goeie brandstof wat so versprei is dat dit die vuur se verspreiding fassiliteer; en ‘n bron wat die vuur aansteek. Sommige van hierdie faktore vra ‘n globale respons, soos globale veranderinge ten opsigte van klimaat wat veldbrande bevorder. Bevolkingsdigtheid word ook verbind met ‘n toename in veldbrande. Plantasies met uitheemse bome dra ook op noemenswaardige wyse by tot veldbrande – veral uitheemse indringerspesies soos dennebome wat die nodige brandstof vir veldbrande voorsien en verspreiding van vure bevorder. Dekades van navorsing wys duidelik dat natuurlike fynbos wat binnegedring is met baie groter omvang brand as fynbosveld sonder indringerbome. Hierdie indringer denne verlaag ook fynbos se biodiversiteit en oppervlakwater in die omgewing.

Erfenis is deel van ons identiteit, welstand en toekoms. Vanuit hierdie oogpunt vra die brand in Kaapstad ons om as ‘n gemeenskap bewus te wees en verantwoordelikheid te aanvaar vir ons mensgemaakte en natuurlike erfenis, wat verweef is met ons eie lewens en dié van ons geliefdes.

Tog is die ironie dat wanneer erfenis stadig en sonder groot drama verlore gaan as gevolg van verweer of die verspreiding van uitheemse indringerbome, die verlies vir ons skynbaar verdun en makliker is om te ignoreer, soos met die Herbert Baker gebou in in Languedoc, dennebome diep in Jonkershoek of sekere geboue in Dorpstraat.

Lees ook Simone Haysom’s se artikel oor die ervaring van verlies met die vuur in Kaapstad. .

Leave a Reply