Fietsry en ou geboue

9 Oktober 2013

Rome se nuwe burgemeester het die aandag van bewaringsbewustes wêreldwyd aangegryp met sy plan om alle motorvervoer rondom die Colosseum te verbied. Nie net sal dit die status van dié VN-Wêrelderfenis herstel nie, maar dit sal ook help om die gebou teen verdere skade te beskerm.

Burgemeester Ignazio Marino, ’n mediese spesialis, het reeds die Italianers se aandag getrek vir sy gewoonte om per fiets in die stad oor die weg te kom.

Wat ons by die eintlike vraag vir Stellenbossers bring: is fietsry bevorderlik vir die bewaring van (ou) geboue? Verskeie inisiatiewe vir fietsry word nou in Stellenbosch beplan.

Hoewel heelwat navorsing al gedoen is oor die omgewingsvriendelike aspekte van fietsry, is daar maar min oor die voordele wat dit vir die beboude omgewing inhou. Buiten die verminderde vrystelling van koolstofdioksied en ander gasse wat uiteindelik ook geboue verniel, sou ’n mens dink dat ’n (veilige) rit per fiets ook die geleentheid bied om die stad beter te kan ervaar: nie net het die fietsryer meer tyd om die omgewing te waardeer nie, maar reuke en geluide is ook skerper, wat lei tot ‘n sintuiglik meer volledige ondervinding.

Stede die wêreld oor het in die laaste tyd begin om hul fietsvriendelike beeld te verbeter. Meesal word die inwoners se gesondheid en verkeersknope as redes aangevoer.

city-cycling_998808c - londenDie Britse premier David Cameron het onlangs £77 miljoen beskikbaar gestel om die fietsrykultuur in Brittanje – Londen uitgesluit – ’n hupstoot te gee. Die geld sal gebruik word om Manchester, Leeds, Birmingham, Newcastle, Bristol, Cambridge, Oxford en Norwich op die regte spoor te help.

Londen se burgemeester, Boris Johnson, self ‘n fietsryer, het vanjaar £913 miljoen oor die volgende tien jaar beloof met die doel om die stad veiliger en vriendeliker vir fietse te maak.

Die London Cycling Campaign se veldtog Love London, Go Dutch is gemik daarop om Londense strate net so fietsry-vriendelik te maak soos in Nederland. Nederland het in die 1970’s begin beplan en bou aan die infrastruktuur wat dit vandag ’n fietsry-paradys maak.

Die Citi Bike-projek van burgemeester Bloomberg in New York, is in Mei vanjaar geloods danksy die rojale steun van Citigroup wat 6 000 fietse oor meer as 300 “stasies” oral oor Manhattan en dele van Brooklyn beskikbaar gestel het.

Ook Wenen, Oostenryk, bevind hulle midde-in ’n vyfjaar-plan om fietsry te bevorder. Saam met 60 ander Europese stede het hulle ook die Charter of Brussels onderteken. Buiten streng ondernemings om veiligheid van fietsers te bevorder, poog hierdie stede om teen 2015 ook 15% van alle ritte wat onderneem word, per fiets te maak.

In Denemarke word hard gewerk aan sowat 500 km fiets-snelweë in en om Kopenhagen terwyl Nederland oor meer as 35 000 km fietspaaie beskik.

       _69167072_dutchbikes_prioritystreet_portland_464      _69167075_dutchroundabout_tfl_624

Vir meer inligting:

http://www.theguardian.com/lifeandstyle/2013/aug/26/going-dutch-berkshire-tests-netherlands-cycling

http://www.theguardian.com/world/2013/jun/16/vienna-embraces-culture-of-cycling

http://www.theguardian.com/world/2013/sep/04/italy-bike-motorway-european-cycling-imbalance

http://www.telegraph.co.uk/news/worldnews/europe/italy/10220434/Mayor-of-Rome-risks-driver-fury-as-he-closes-road-to-Colosseum.html

http://www.telegraph.co.uk/travel/travelnews/10087058/New-York-City-bike-scheme-gets-mixed-response.html

 

Leave a Reply