Hannes Meiring

6 May 2010

Hannes Meiring, bekende argitek en bewaringsvegter wat in die jare sewentig ‘n landwye beweging gelei het om Kerkplein in Pretoria te bewaar, het vandeesweek onverwags aan huis in Stellenbosch gesterf. Hy was 75 jaar.

Die beweging van destyds om Kerkplein te red was meer as net ‘n gewone bewaringspoging. Dit was voorbladnuus en volbladnuus in koerante. Dit het ‘n dimensie bevat van kulturele opstand teen ’n regering wat denkende mense toenemend vervreem het. In opsigte was dit verwant aan Afrikaanse skrywers en akademici se stryd teen sensuur, protes oor ‘n spesifieke saak, maar tegelyk ‘n wyer en dieper reaksie teen dom en bekrompe ongevoeligheid.

Meiring was goed toegerus om die informele leier te wees van die poging om die regering van Eerste Minister John Vorster teen te staan, om eindelik die historiese Wesfasade in 1975 van sloping te red en tot nasionale gedenkwaardigheid te verklaar. Hy was ‘n suksesvolle argitek in ‘n goeie vennootskap met belangrike private en openbare opdragte, ‘n kundige bewaarder, goed belese en berese. Hy het opgegroei as die vierde van vyf kinders in ‘n familie met akademiese en politieke invloed en was voorts ‘n innemende mens, met ‘n sterk selfbeeld, iemand wat die toorn van magtige politieke leiers kon weerstaan.

Meiring is in Potchefstroom gebore, maar het grootgeword in Stellenbosch, waar sy vader hoogleraar in opvoedkunde was. ‘n Belangstelling in argitektuur is aangewakker deur ‘n oom, At Meiring, later die eerste hoogleraar in argitektuur aan die Universiteit van Pretoria. Ná studie in argitektuur aan die Universiteit van Kaapstad, met Pius Pahl, Deane Anderson, Pryce-Lewis en Thornton-White as invloede, het hy ook twee jaar in München studeer.

In Pretoria was hy later ‘n senior vennoot in Colyn en Meiring, voorsitter van die Noord-Transvaalse tak van die Stigting Simon van de der Stel, ‘n aktiewe lid van die Instituut van argitekte en ‘n deeltydse dosent in argitektuur aan die Universiteit van Pretoria.

Hy word onder meer onthou vir sy werk aan die nuwe Parlement; die restourasie van die Ou Raadsaal en die Erasmus-kasteel in Pretoria; die Saldanha-staalfabriek; die Rupert kunsmuseum in Stellenbosch; en belangwekkende woonhuise, wynkelders en openbare geboue. Hy was aangetrokke tot monumentale geboue uit vorige tydperke, maar eweneens ‘n voorstander van nuwe argitektuur. In Stellenbosch, waar hy hom weer na ‘n lang verblyf in Pretoria gevestig het, het sy verdediging van nuwe argitektuur in die dorpkern hom by meermale in botsing gebring met bewaringslui met wie hy tevore vereenselwig is.

Sy meelewing met uiteenlopende mense was moontlik gedeeltelik aanleiding dat hy ook in ontwerp goeie verdraagsaamheid gehad het vir sinvolle dissonansie, vir uiteenlopende ontwerpstyle in gesprek met mekaar. Argitekte wat saam met hom of onder hom gewerk het, onthou sy oop gemoed, altyd nuuskierig oor nuwe insigte, sy sin vir regverdigheid, en sy hoflike menslikheid. In groot en klein geboue het hy goeie begrip gehad vir balans en menslike skaal. In sy tekeninge en skilderye lei dit tot ‘n belangstelling in volkshuise, hutte en pondokke, en in die wyses waarop mense met min middele identiteit in hul omgewing skep. Dit was vir hom ‘n frustrasie dat die groter bounywerheid in Suid Afrika nie die politieke wil kon vind om voortreflike groepbehuising vir mense van die land te skep nie.

In ‘n eie huis wat Meiring buite Pretoria vir hom en Martie Retief-Meiring ontwerp het, skakel verskillende klein eenhede in Afrika- en volksboustyl verstommend vernu_ig met mekaar. ‘n Lid van die paneel wat ‘n merieteprys vir dié ontwerp aan hom toegeken het, beskryf dit so: ‘It is chaos – but what chaos!’

Meiring was nie materialisties nie. Toe hy voel dat sy werk as senior vennoot by Colyn en Meiring te veel bestuurswerk was, het hy die vennootskap op goeie voet verlaat en van nuuts af begin, om weer meer

aandag te gee aan ontwerp, wat vir hom ‘n vreugde was. Hy het daarná steeds groot projekte behartig, maar die werkstekeninge aan ander argitekte oorgelaat. Hy kom tegelyk meer teken, tekeninge waarin hy die wesenlike trekke van geboue en landskappe met uitbundige vaart vaslê. Meer onlangs het hy ook geskilder, werke in breë hale en helder kleure, in ‘n spuitver_egniek wat hy vasbeslote aan’t bemeester was, nádat ‘n bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar hom wou oortuig dat hy onmoontlik kon slaag in so‘n tegniek wat weens die vinnige droog van die verf om uiterste snel uitvoering vra.

Hy was voorts betrokke by talle publikasies waarin inheemse boukuns gedokumenteer en wyer bekend gestel is, onder meer Kruger’s Pretoria (1972); Boukunsska1e van Suid Afrika (1977); Stellenbosch te Voet (1979); en My Country in Line and Colour (2004). Kunswerke deur hom is in belangrike versamelings opgeneem en vul ook openbare ruimtes. Hy het vier toekennings van die Instituut vir argitekte ontvang en medaljes en toekennings van die Stigting Simon van der Stel en van die Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy benadering in sy werk het hy kort saamgevat: ‘Wanneer jy fouteer, doen dit in die rigting van eenvoud…’

Naas dit wat Meiring as argitek, bewaarder, skrywer, en kunstenaar bereik het, het Hannes blywende waarde as ‘n hegte vriend vir vele mense. Tussen hom en Martie en hul dogter, Kabous, was daar ‘n wye netwerk van vriende met wydse belangstellings. Hannes, legendaries mensliewend, het ‘n aansteeklike vreugde en waardering gehad vir dit wat mooi en lekker is. Hy kon grootdoenerigheid en valsheid met vrolike geestigheid ondermyn, maar het meesal die goeie in ander raakgesien, selfs in mense wat hom kwaad sou aandoen.

‘n Studentevriend vertel hoe hulle as studente aan UK ál Ikeys se spanne vurig ondersteun het. Stellenbosch Universiteit was hul natuurlike vyande. By ‘n rugbywedstryd waar hulle met oorgawe ‘n ander span teen die Maties ondersteun het, het die vriend homself met soveel drif uitgedruk dat Hannes hom mettertyd aan die skouer neem, in die oë kyk en vermanend sê: ‘Man, onthou…hulle is ook maar net studente…’

Hannes het tegelyk ‘n koppige streep gehad, wat ‘n mens kon verras. Die eienaar van die eerste huis wat hy as jong argitek ontwerp het, het sonder om hom te raadpleeg opdragte vir kleiner wysigings aan die bouer gegee en die daarby huis in ‘n vreemde kleur laat verf. Hannes het daarop die argiteksbord verwyder en hoflik vir die eienaar gesê hy sal ongelukkig nie verder met hom kon praat nie. Dié koppigheid was goed te pas met bewaring, waar ‘n sterk wil dikwels nodig was. Hannes het nietemin in byna alle gevalle weer vriende geword het met mense met wie hy onenig was; daar was weinig bitterheid ooit by hom.

Ten diepste was Hannes ‘n ruim mens. Mense het goed gevoel nádat hulle hom raakgeloop het. Hy was meesal sonder agterdog en beoordeling, en het eerder ‘n ingesteldheid gehad om die oomblik te geniet. In sy geselskap kon ‘n mens voel die wêreld is ‘n goeie plek, en jy ‘n beter mens as wat jy tevore vermoed het.

Sondag, die laaste dag toe Hannes langs die see gekuier het, kyk ek op Waenhuiskrans toevallig na ‘n geraamde tekening van hom. In sy skets het hy onvanpaste veranderinge aan ‘n eertydse vissershuis ignoreer en bloot die basiese struktuur van die huis met ‘n paar hale aangedui. Toe ek die skets jare gelede die eerste keer gesien het, was my reaksie dat dit eie aan Hannes is om onder die onvanpaste toevoegings dit wat mooi is raak te sien en uit te lig. Enkele maande nádat Hannes dié tekening gedoen het, het sy ou klasmaat en lewenslange vriend, Chris Stander, dié betrokke visserswoning vir die eienaar gerestoureer.

Daar verdwyn die lelike toevoegings toe en word Hannes se profetiese tekening ook letterlik waar… ’n Mens kan dink hoe Hannes met ruim selfspot sou kon dink aan Picasso se antwoord toe daar vir hom gesê is sy weergawe van Gertrude Stein is nie herkenbaar nie, want dit lyk glad soos sy nie. Picasso se bondige antwoord was: ‘It will, in time…’

Mag’t dat ons meer sal kyk soos wat Hannes gekyk het.

Voorbeelde van Hannes se argitektuur:

Dombeya

Saldanha Staal

Sketse deur Hannes

Elsenburg

Neethlingshof

Lanzerac

Leef op Hoop, Klein Gustrouw, Jonkershoek

Brug oor Eersterivier

Volkskombuis

Leave a Reply