Tate Modern se nuwe Switch house

4 Augustus 2016

 

Die Switch House, Herzog en De Meuron se nuwe ‘vleuel’ tot die Tate Modern in Londen, het onlangs geopen.

Die firma was sowat 22 jaar gelede ook verantwoordelik vir omskep van die Bankside-kragstasie na die Tate Modern, ’n projek wat jaarliks sowat 5 miljoen besoekers lok – glo twee keer soveel as wat verwag is, aldus inligting oor die gebou wat deur die argitekte beskikbaar gestel is op die webwerf Archdaily.

Net soos elemente in die ‘oorspronklike’ Tate Modern steeds bekendstaan onder hul ‘kragstasie’-benamings (Turbine Hall, Boiler House ens.), is die Switch House gebou op die terrein waar die kragstasie se switch house eens was. Dit staan op ‘n terras in die vorm van drie sirkels wat mekaar sny – aanduidend van die ligging van die olietenks.  Die gebou self is ’n piramide van baksteen, of soos Edwin Heathcote in die Financial Times skryf: “Die toring is hoog dog stewig en vreemd van vorm, versigtig gevou, geperforeer en geleidelik dunner na bo. Die vou en die skerp kant laat dit hoër en smaller voorkom, en beklemtoon die hoogte. Dit is die baksteentoring wat die motief is vir die projek maar dit is selgs een komponent.”

Tate_Modern_HdM_1829

tate modern aug nuusbrief

Die gebou herinterpreteer net 336 000 bakstene die oorspronlike kragstasie se baksteenwerk op ’n radikale manier. “Die unieke fasade laat lig na binne filter deur die dag en snags weer na buite gloei en verander ‘n soliede, massiewe materiaal in ‘n sluiter wat die betongeraamte van die nuwe gebou versteek.”

Die eerste vier vloere – alles galeryruimte – het ook vertikale vensters wat herinner aan dié in die oorspronklike Boiler House en besoekers kan die omgewing of aanliggende Turbine Hall hierdeur sien. Daarna volg administratiewe ruimte en heel bó is ’n uitkykpunt wat uitsigte van 360 grade oor Londen bied.

Die nuwe gebou vorm ’n eenheid met die oorspronklike Tate Modern. Heathcote sê: “Die nuwe fase voltooi die werk wat die argitekte in 1994 begin het. Twee-en-twintig jaar is ’n lang tyd in kontemporêre argitektuur en modes verander vinnig, dog voel hierdie eerder na ‘n instelling wat geëvoleer het. Herzog en De Meuron verwys daarna as ’n ‘organisme’, waarbinne die dele ooglopend verskil maar dieselfde genetiese kode het. Uit ‘n stedelike oogpunt bereik hulle hier iets besonders. Hulle het dit reg gekry om die voormalige kragstasie in die stad en strate te ingegreer wyl die sin van teenwoordigheid en andersheid behoue gebly het.”

 

Leave a Reply