Argitektuurgeskiedenis

Voorwoord

Die Studiegroep van Stellenbosch Argitekte het in 1979 ‘n uitstalling van 300 jaar se argitektuur aangebied in die Universiteit se kunsgalery in Dorpstraat – vroeër bekend as die Ou Lutherse Kerk en ontwerp deur argitek Carl Otto Hager in 1851. Dié weergawe van daardie tentoonstelling gee ‘n beknopte, maar ewewigtige beeld van die dorp se argitektuur. Die klem is op die ontwikkeling van Stellenbosch se dorps-karakter en die argitektoniese kwaliteite wat daarmee gepaard gaan. Die tentoonstelling is as ‘n opsommende en illustrerende aanvulling tot mnr. Hans Franse se werkstuk, Drie Eeue van Argitektuur.

1. ONTWIKKELING

1679 – 1710 Landbou Dorpie

Na die vallei se ontdekking op 8 November 1679 het die “Colonie van Stellenbos” begin as ‘n nedersetting van Vryburgers soos byvoorbeeld Jacob Brouwer op die plaas Doornbosch wat in 1979 gerestoureer is.
Dorpstigting geskied eers in die jaar 1685 en word gebaseer op vier uitgangspunte, naamlik ‘n kerk met ‘n kerkhof, ‘n drosdy op die eiland, woonerwe tussen hierdie openbare geboue, en “de Wagenweg naar de Caab” – vandag se Dorpstraat.
Roetes na die verskillende plase beïnvloed hierdie uitleg, en die heel eerste wonings verrys by die Groote en KIeine Kerkstraat-kruising – dit wil sê die hart van vandag se historiese middedorp.

Teen 1710 se verwoestende brand het die landbouersdorpie, ingedruk op oorskietgrond tussen die plase, slegs bestaan uit ‘n dosyn eenvoudige en hoofsaaklike langwerpige huise sowel as die kerk en die drosdy. Die huise was gebou van beskikbare plaaslike material en het wit gekalkte mure en oorheersend wolfhoek grasdakke gehad.

Van Stade Drawing - Earliest picture of Stellenbosch

Van Stade Drawing – Earliest picture of Stellenbosch

 

 

 

 

1709_Schreuder_House_Earliest_unchanged_dwelling_in_SA

1709 Schreuder House Earliest unchanged dwelling in SA

1710 – 1776 Stadige Groei

Schumacher's Portrayal

Schumacher’s Portrayal 1776

Volgens Schumacher se beeld toon Stellenbosch ‘n geringe groei na die brand van 1710. Na byna ‘n eeu het die dorpie slegs sowat 300 blanke inwoners wat 40 tot 50 huise, geleë aan die twee breë strate Kerkstraat en Dorpstraat, bewoon.
Op sy nuwe perseel aan die windkant van die dorpie waar moontlike brandgevaar beperk is, vorm die nuwe kruisvormige kerk ‘n baie mooi fokus as die oostelike afsluiting vir Kerkstraat net soos die administratiewe middelpunt van die dorp, naamlik die drosdy, ‘n ewe geslaagde fokus vorm vir die nuut uitgelegde vyfde straat, Drosdystraat of ook genoem die “Beplante Plein”. Voorwaar ‘n voortreflike dorpsuitleg waar die twee belangrikste openbare geboue prominente persele beset en op ‘n pragtige wyse aan mekaar en aan die straat ruimtes verwant is.
Pleinstraat is net ‘n eike-laning aan die noordekant begrens deur plasies. Gedurende hierdie proses word die rivierloop uit die dorpie teruggekeer na die hoofstroom.
Die meeste huise het wolfhoek of half-wolfhoek eindgewels, maar die pastorie op die hoek van Dorpstraat en vandag Louwstraat het ‘n volle eindgewel en ‘n vollehoogte middelgewel asook groot skuifraamvensters met halfluike.
‘n Tweede brand breek uit in 1763 en die drosdy word soos eenmaal vantevore weer eens herbou.

1776 – 1817 Groeiende Kaaps-Hollandse Dorp

Landmeter Hertzog se kaart van 1817 toon hoe die straatbeeld van die middedorp voltooi is. Die dorpsuitleg het iets pragtigs geword omdat ‘n onreëlmatige roosterpatroon harmonieus ingevleg is in die organise dorpsontplooiing. Strate loop dood op belangrike geboue soos die kerk, drosdy en die gevangenis, of hulle vergroot tot ruimtes soos die Braak. Voeg hierby gekromde strate en die resultaat is ‘n beeld van deurdagte begrensing, intimiteit, herkenbare oriënteering en wisselende tonele en ruimtes.
Die Braak of “Koningsplein”, is ‘n netjiese dorpsplein met ‘n dubbel eikelaning, omlyn met geboue langs Birdstraat en Alexanderstraat asook deur die oprigting van die Kruithuis aan die westekant.

The Hertzog Map

The Hertzog Map – valuable topographical document

‘n Derde groot brand verwoes in 1803 sowat 42 huise wat gou weer herbou word, party met ‘n stylverandering. Gewel huise word dubbelverdiepings met platdakke om die brandgevaar te verminder. Gedurende hierdie oplewingsperiode verdriedubbel die dorp tot ongeveer 120 huise. Hulle staan al nader aan mekaar en so begin die later unieke aaneengeskakelde “straatwande”.

1817 – 1875 Mooiste stadium

Vir eers word dorpsuitbreiding verbeeldingloos op ‘n roosterpatroon noordwaarts gestimuleer maar sonder veel sukses. Skakelhuise ontstaan hier soos ook in Birdstraat, die Meulsteeg, Dorpstraat en Hertestraat.
Meer belangrike openbare geboue en veral kerke word opgerig – Kaaps-Hollandse Rynse Kerk 1823, Kaaps-Gotiese Dt. Mary’s 1852, Kaaps-Gotiese Lutherse Kerk 1853, Wesleyaanse Kerk 1875, en die Kaaps-Gotiese Herlewingstyl Moederkerk 1863.
Die dorpsgebied toon min groei maar word digter bebou met sowat 175 huise teen 1859, waarvan 15-20 dubbelverdiepings was. Planaanpassings en stylveranderinge vind vryelik plaas.
Geboue in die middedorp vorm gesamentlike straatwande en met hulpstrukture soos buitegeboue, grensmure en poorte wat met die hoofgeboue harmonieer volgens skaal, detail en materiaal, ontstaan ‘n besondere argitektoniese kontinuïteit en eenheidskarakter. Versterk deur die samebindende elemente van waterlope, groenigheid, intieme en skaduryke straatruimtes, kan ‘n mens ‘n dorp van buitengewone skoonheid visualiseer soos Fransen dit beskryf: “n Hoofsaaklik Kaaps-Hollandse grasdakdorp, maar tog besprinkel met statige Georgiaanse en vroeg-Viktoriaanse geboue wat daaraan die kwaliteit van ‘n stil maar selfstandige klein streekshoofstadjie verleen – Stellenbosch waarskynlik op sy mooiste”.
‘n Vierde groot brand tref die dorp in 1875.

1875 – 1914 Verandering en Disharmonie

Na 1875 se brand word gewels verwyder, mure verhoog, dakke verlaag, fasade-proporsies versteur, moderne vensters en deure en balkonne en verandas aangebring, en so verval die vorige gestrenge tradisie en begin die sinkplaat-tydperk met sy groter vryheid van uitdrukkingsvorme volgens persoonlike smaak en grille.
Op die klipperige grond noordwaarts word lang rye huisies verhuur aan bruinmense. Ander groei geskied oos- en weswaarts op die vrugbaarder rivierterras. Imposante Viktoriaanse toringvillas met dekoratiewe gietysterverandas verrys op ruim persele in Van Riebeeckstraat en Heroldstraat. Na 1902 ontwikkel Mostertsdrif as ‘n elite-woonbuurt. Oudstryders van die Anglo-Boereoorlog vind ‘n tuiste in die Karoo-tipe platdakhuisies in die Laan.
In die ou dorp verskyn nog meer dubbelverdieping wonings, veral in Pleinstraat en Dorpstraat, en saam met dubbelverdieping sakegeboue getooi in Hoog Viktoriaanse Styl met winkelfronte onder (Joerning en De Wet’s), verkry die middedorp ‘n effense stedelike karakter.
Die grootste verandering is waarskynlik die toevoeging van meer ambisieuse en monumentale opvoedkundige inrigtings soos Viktoria Kollege Hoofgebou, die Kweekskool en Konservatorium beide 1905 en Bloemhof 1907.
Teen die jaar 1914 is die beeld van Stellenbosch een van argitektoniese onsamehangendheid en disharmonie tussen die historiese kern en nuwer buurte, asook tussen die geboue onderling.

1914 – 1945 Oorgang na Moderne Eeu

Hierdie oorgangstydperk tot die eise van die Moderne Eeu is bemoeilik deur die ontwrigting van twee wêreldoorloë en die insinking deur ‘n depressie op alle terreine, ingeslote die argitektuur.
Vordering in die landbousektor asook universiteitontwikkeling stimuleer tog dorpsgroei en lei tot ‘n meer intensiewe benutting van die bestaande middedorp en die nuwer woongebiede.
Pleinstraat en Birdstraat word die vernaamste sakedeel, en ‘n proses van eers groter vensters, dan veranda toevoegings, later verbouings en uiteindelik sloping om plek te maak vir nuwe sakegeboue of woonstelle, veroorsaak dat talle historiese geboue verdwyn.
Die motor verskyn op die toneel en daarmee verander mettertyd die rustige en veilige atmosfeer van die straatruimtes. Noodsaaklike dienste volg, soos riolering, elektrisiteit, stormwaterverwydering, straatverbeterings insluitende sypaadjies en padtekens en so raak die mensgemaakte Stellenbosch al hoe meer gekompliseerd.
Die ontwerpers van geboue worstel met die problem van hoe om boukundig uitdrukking te gee aan die nuwe en veranderende leefwyse, tegnologie en die idees van die moderne eeu, en dan boonop nog estetiese aansluiting te vind by die historiese dorpstoneel. Die gebrek aan suiwer ontledende en vertolkende skeppingsvermoë vir so ‘n moeilike uitdaging word daarin weerspieël dat die meeste geboue opgerig is in ‘n pseudo-Kaaps-Hollandse of ander soortgelyke style.

1945 – 1970 Na-oorlogse Vryheid

Snelle uitbreiding vind plaas en nuwe woongebiede soos Krigeville, Dalsig, Onder-Papegaaiberg, Karindal en Uniepark word gestig. Talle nuwe skole, universiteitsgeboue, nywerheids- en sakegeboue asook navorsingsinstitute verrys. Birdstraat en Dorpstraat ondergaan groot veranderinge.
Die vinnige bevolkingstoename vereis ‘n nuwe soort huisvesting en verskeie woonstel-geboue word opgerig. Die studentetal neem toe van 1800 na 9000, terwyl motors vermeerder van 2000 na 20 000.
Die toenemende invloed van na-oorlogse tegnologie, kennis, material-verskeidenheid, reklamewese en so meer, lei tot groter onverskilligheid teenoor die verlede en steeds meer historiese geboue word vervang met karakterlose, internasionaal-voorstedelike kommersiële strukture gekenmerk deur veelvuldigheid van uitdrukkingsvorme en groot materiaalvariasie. Sekere instansies en persone bly ook nog vasgevang in die pseudo-benadering van vroeër.
‘n Nuwe geslag van argitekte, opgelei met ‘n begrip van die moderne tydvak, rebelleer teen die stylverwarring asook teen die gebrekkige kwaliteite van die nuwe bouwerke. Hulle fundamentele en rasionele benadering lewer mettertyd die voortekens van ‘n gesonde eietydse uitdrukkingsvorm.
Die vernietiging en verlies van kultuurskatte enersyds en die invoer van vreemde en swak elemente andersyds, bring ‘n verskerpte waardering vir die argitektoniese waardes van Stellenbosch se verlede na vore, en so ontstaan die pioneersaksies vir bewaring en restourasie – moontlik die belangrikste gebeurtenis van hierdie periode.

1970 – 1979 Eietydse Idioom

In hierdie tydperk is daar voortgesette groei op alle vlakke. Nuwe woongebiede ontstaan in Cloetesville, Brandwacht en Die Boord. Die bestaande woon- en sakedeel ontwikkel steeds meer intensief en oop persele word al skaarser. Noord van Merrimanlaan bly die ontwikkeling traag soos in die verlede.
Stellenbosch se middedorp ondergaan groot veranderinge met verskeie nuwe en groot sakegeboue wat in ‘n mindere of meerdere mate aanpas by die dorpskarakter. Hierdie toename in fasiliteite en gebruik word weerspieël in die ongekende voorsiening wat vir motors gemaak is soos parkeerkelders, dakparkering, munisipale tolparkering, voertuigomsingeling van die Braak, verkeersligte, padverlegging en padverbreding.
Die Munisipaliteit en die Universiteit sowel as privaat eienaars onderneem belangrike afrondingswerk aan sypaadjies, die meulsloot, kampusterreine en tuine.
Ook die Universiteit ontplooi snel. ‘n Langverwagte era van meer sinvolle hedendaagse akademiese argitektuur breek aan en verskeie bouwerke van ‘n hoogstaande gehalte verrys.
Die bemoedigendste aspek van hierdie periode is ongetwyfeld die belowende ontplooiing van ‘n eietydse idioom, veral na die onverskilligheid, eksperimentering en baie pogings van die vorige dekades. ‘n Benadering van simpatieke en verantwoorde buurskap tussen historiese en outentieke hedendaagse geboue met handhawing van Stellenbosch se unieke dorpskarakter, het reeds ‘n aantal belangrike bydraes gelewer.

2. AANVULLENDE ASPEKTE – UNIVERSITEIT ARGITEKTUUR

Vandag se Dorpstraat Nr. 00 het die Stellenbosch Gimnasium van 1865 gehuisves waaruit die Stellenbosch College ontstaan het en wat later die Viktoria Kollege sou heet en in 1918 die Universiteit van Stellenbosch geword het.
Vier stadiums kan onderskei word in die ontwikkeling van die universiteit se argitektuur.

1881-1914

Vir die eklektiese argitekte van hierdie tydperk was dit logies om die Klassieke Style te kies vir geleerdheid en die Gotiese Style te kies vir godsdiens, en so verrys die Ou Hoofgebou van 1881 in die statige, goed geproporsioneerde Griekse Herlewing styl.
Die indrukwekkende en mooi eerste geboue is hoofsaaklik fasade-argitektuur en die mure, lyswerk en dekoratiewe motiewe word alles in pleister afgewerk en wit geverf. Dit is dus ‘n voortsetting van die tradisionele dorpskarakter maar in nuwe style.

1914-1945

Verskeie daadwerklike pogings word aangewend, veral deur argitek Wynand Louw, om op ‘n meer rasionele wyse te voldoen aan die praktiese vereistes van akademiese fasiliteite en om aansluiting te vind by die moderne eeu. Voorbeelde soos Dagbreek, die Ou Landbou-gebou en die De Beers-gebou val in hierdie groep.
Die aanwending van vroeëre tydperke se style-elemente soos byvoorbeeld aangepaste Kaaps-Hollandse gewels, gaan egter voort maar die oormaat van dekorasie word vervang met ‘n dikwels armoedige leegheid en onafgerondheid – tipiese verskynsels van ‘n oorgangstadium.

1945 -1970

Die grootste uitbreiding van fasiliteite vind plaas gedurende hierdie periode. Afgesien van deeglike konstruksie en die goeie tegniese versorging van die geboue, toon die beplanning en argitektoniese uitdrukking, vergeleke by gevorderde akademiese geboue oorsee, ‘n verbeeldingloosheid en estetiese verstarring. Die vereenvoudigde styl van rooi teëldakke, wit pleister mure en rye klein vensters wat gedurende die twintiger jare ontstaan het, word voortgesit. Ingange word variasies van ‘n indrukwekkende tempelfront konsep. Teen die einde hierdie periode word ‘n aanvang gemaak met die opstel van ‘n omvattende ontwikkelingsplan asook die daarstelling van doeltreffende beplanningsmeganismes.

1970-1979

Onder die leiding van die rector Prof. J.N. de Villiers, betree die universiteit ‘n tydvak van argitektoniese vernuwing en word die eietydse idioom ten volle aanvaar. Dit is merkwaardig hoeveel geboue van ‘n besondere hoogstaande gehalte in slegs een dekade opgerig is, en hoedat hierdie bloeiperiode op die kampus ooreenstem met soortgelyke vordering wat daar in dieselfde periode elders in die dorp gemaak is. Die nuwe kampus-argitektuur slaag daarin om vir die hedendaagse student en dosent ‘n prikkelende en dinamiese atmosfeer te skep wat bevorderlik en inspirerend is vir die soeke na kennis en die daaropvolgende leiding aan die gemeenskap, alles in die idioom van vandag.

3. AANVULLENDE ASPEKTE – MODERNE WONINGBOU

Stellenbosch se twintigste-eeuse woningbou, veral langs Noordwal, Van Riebeeckstraat , in Mostertsdrif, sowel as in die nuwer woonbuurte, weerspieël ‘n besondere ontwerp-aanvoeling vir die leefwyse en siening van elke tydperk. Die algemene gehalte van die argitektuur is van die hoogste in die Wes-Kaap.
Sedert 1952 was die voortreflike werk van die Bauhaus-opgeleide Pius Pahl ‘n genot vir baie gesinne en ‘n bron van inspirasie vir sy kollegas.
Kenmerkend van die na-oorlogse wonings is die funksionele ontwerp benadering wat die klem laat val op ‘n informele leefwyse en op die doeltreffendheid van ruimtes, fasiliteite en toerusting. Die moderne tegnologie, die wye materiaalkeuse en al die vereistes en behoeftes van die bewoners, het ontwerp-innovasie gestimuleer en gelei tot ‘n groot verskeidenheid van uitdrukkingsvorme en karakter.
Opvallend is ook die prominente rol wat die motor en die motorskuiling of garage in die toegangsroete van wonings speel.
Die tradisioneel “kamer-en-gang” beplanning met beperkte venster en deur opening in mure, word veral in die woonvertrekke vervang met “oop beplanning”. Ineenvloeiende ruimtes word gevorm en hulle integreer volkome met die buiteleefruimtes deur middel van groot glasmure, deure en plantegroei. Oriëntering na uitsigte en son word ook belangriker as ‘n indrukwekkende straataansig.
Die mees geslaagde hedendaagse wonings respekteer steeds die tradisionele boumateriaal en kleurskemas en vertoon karaktertrekke van ingetoënheid en waardigheid wat goed pas by Stellenbosch se dorpsaard.

4. AANVULLENDE ASPEKTE – BEWARING EN RESTOURASIE

Soos reeds vroeër aangedui het ‘n bewaringsbewussyn en die eerste restourasie-aksies ontstaan en gegroei teen die agtergrond van ‘n verlies aan historiese geboue weens onverskilligheid en moderne dorpsontwikkeling.
Die omvang van hierdie aktiwiteite word verbeeld op die Hertzog-kaart van 1859 waarop gerestoureerde geboue swart ingevul is. Heelwat meer geboue is al van verdwyning beveilig maar moet nog versorg word.
Afgesien van die manjifieke bydrae om aansienlike outentieke stukke van Stellenbosch se eertydse glorie te herstel en te bewaar, is dit nou duidelik dat hierdie aksies ‘n nuwe en dieper aanvoeling en begrip vir argitektuur onder leke sowel as onder argitekte geïnspireer het. Selfs met die baie kort perspektief van net een of twee dekades is dit moeilik om te aanvaar dat 1970-1979 se ontluikende eietydse idioom wat op simpatieke wyse met die historiese saamsmelt, onafhanklik van hierdie verdieping kon ontwikkel het.
In die lig van die toenemende eerbied vir outentieke kultuurerfenisse, is daar drie ontstellende verskynsels wat indringende besinning regverdig maar wat hier net aangestip kan word: eerstens die skepping van nuwe Kaaps-Hollandse geboue. Tweedens die voorneme om ‘n replika van ‘n ou Stellenbosch gebou in ‘n nuwe omgewing op te rig, en derdens die onverskillige wyse waarop restourasie projekte sonder die kontrole of kundigheid van kenners onderneem word.

5. AANVULLENDE ASPEKTE – MOOI EN LELIK

Fyner stedelike detail soos vir allerlei straatmeubels en munisipale tegniese dienste, sypaadjies en plantegroei, reklamepanele of aanwysingsborde kan die algemene dorpstoneel pragtig afrond en verryk mits dit met ‘n gepaste aanvoeling ontwerp en uitgevoer word.
Stellenbosch se dorpstoneel word steeds beter versorg danksy die gewaardeerde optrede van die Munisipaliteit, die Universiteit en privaat eienaars wat in die afgelope tyd die Meulsloot, sypaadjies, kampusterreine en tuine verfraai het.
Daar is helaas egter ook nog heelwat ruimte vir verbetering….

6. AANVULLENDE ASPEKTE – OMSTREDED PROJEKTE

In die oorsigtelike en gedetailleerde evaluering van Stellenbosch se argitektuur het die klem vanselfsprekend geval op die kenmerke en kwaliteite wat deur professionele kundiges en begrypende belangstellendes as positief, hoogstaande en gepas geskou word in die Stellenbosche konteks.
Onvermydelik is daar egter ‘n teenbeeld wat nie algemeen aanvaar word as behorende tot die hoofstroom van argitektuur wat die dorpskarakter onderskryf nie. Die redes hiervoor is legio en ook universeel van aard: soos blote onverskilligheid, gebrekkige ontwerpinsig en vermoë, verstarring, omstandighede van beperkende ontwerp opdragte, of omdat die ontwerper nie die opvoedingsuitdaging van sy beroep aanvaar nie.
Aangesien alle geboue deel uitmaak van die dorpstoneel en omdat sy kultuurbewuste inwoners mag besin oor die argitektuur van geboue, het hierdie mosaïek ook ‘n plek in die uitstalling.

7. ERFENIS – STELLENBOSCH KARAKTER

Stellenbosch se organise uitleg is ‘n buitengewoon bevredigende dorp struktuur. Omdat talle strate doodloop op belangrike geboue of oopmaak op plein ruimtes het die middedorp ‘n suksesvolle begrensing met maklik herkenbare bakens. Die strate verander dikwels opwindend van rigting en vertoon kort- en middelafstand dorpstonele van intieme skaal. Die tonele word gedefinieer deur geboue wat saam wande vorm agter ‘n skerm van eikeprieële wat hierdie straatruimtes gerieflik aanpas vir die seisoene. Immer aanwesig is die natuur met sy berge, bome, voëls, eekhorings, water en die Eersterivier.
Binne hierdie inspirerende raamwerk het die argitektuur gepaste eienskappe en hoogstaande kwaliteite ontwikkel.
Die argitektuur se vorm en voorkoms is ‘n geslaagde weergawe van die geboue se beplanning, konstruksiemetodes, materiaalverbruik en tydsgewrig en dra dus ‘n outentieke stempel. Kenmerkend is ook ‘n driedimensionele eksterne afgerondheid. Groot geboumassas is beperk tot ‘n 2-3 verdieping hoogte en verdeel in kleiner elemente wat pas by die intieme straat ruimtes en die fyner dorpskaal. Beperkte materiaalkeuse maar veelsydig aangewend soos byvoorbeeld hout en pleister gekoppel met goeie proporsies en ‘n gepaste rangskikking van elemente, lewer kwaliteite van beheerstheid, waardigheid, goeie smaak en ordelike estetiese samestelling. Oortreffend skoon is die kontras tussen die skitterende en ryk voorkoms van kleinruitvensters met aangrensende wit en stiller pleistervlakke met sy poëtise spel en son, skadupatrone en weerkaatste lig. Poorte en tuinmure definieer agterplase en agtertuine en so word die gebou netjies in sy onmiddellike omgewing afgerond.
Die gevolglike geheelbeeld is een waar ‘n oorwegend witmuurargitektuur van hoogstens eikeboomhoogte op plastiese wyse as ‘n visuele eenheid ineengestrengel is met die saambindende weefsel van plantegroei teen die agtergrond van berge en heuwels.

8. ERFENIS – BUURSKAP

‘n Dorp is ‘n dinamiese en steeds ontwikkelende organisme waar oud en nuut en toekomstig skouer aan skouer saambestaan.
Argitektoniese buurskap is een van die belangrikste aspekte van ‘n gebou se kontekstuele verwantskappe, of anders gestel, van sy verhouding tot sy omgewing. Op Stellenbosch is die benadering tot hierdie verwantskapproblematiek vandag van aktuele belang.
Pogings tot argitektoniese aanpassing het in die verlede baie dikwels bestaan slegs uit ‘n klakkelose nabootsing of uit ‘n oppervlakkige aanwending van die stylelemente uit vervloë tye.
Vandag wen ‘n nuwe benadering al hoe meer veld, naamlik een wat daarna streef om met die bestaande strukture te harmonieer deur in terme van ‘n eietydse idioom die ekwivalent te soek van die essensiële kwaliteite van die ouer argitektuur. Die simpatieke eerbiediging van aspekte soos skaal, hoogte, proporsie, lyn, material-keuse, kleur en karakter speel hierin ‘n baie belangrike rol.
Die bereiking van sukses op hierdie vlak is ‘n uitdaging wat besondere toewyding, insig en talente vra van sowel die ontwerper as van die ontwikkelaar. Ontwikkelaars kan ook ‘n waardevolle bydrae tot die dorp se argitektuur lewer deur met ‘n positiewe en onbevange benadering hulle argitekte die geleentheid te stel om reg te laat geskied aan hierdie aanpassing by ander geboue en die omgewing.