Erfenisbronne in Stellenbosch Munisipaliteit – ‘n Inventaris en Bestuursplan

CAPE WINELANDS PROFESSIONAL PRACTICES IN ASSOCIATION

(Fabio Todeschini and Liana Jansen)

Ons algemene benadering                                                                                                         September 2016

Stellenbosch Munisipaliteit het ’n lang geskiedenis en ’n ryke en veelsydige erfenis. Ons identiteit as individue (wie ons is) en as deel van ’n gemeenskap (waar ons tuishoort) berus op ons verhouding met ons omgewing, wat ook dikwels ’n ‘plekbesef’ genoem word. Die mens se bedrywighede het oor ’n baie lang tyd en op vele verskillende maniere sy stempel op die natuurlike landskappe afgedruk. Verskeie fisiese en maatskaplike kontekste en ontwikkelingsgeskiedenisse het hierdie ‘kulturele’ landskappe help vorm. Óns benadering is om te verstaan hoe plekke geword het wat dit vandag is, watter elemente belangrik is en waarom, en hoe om dit te beskerm en te bestuur.

fabio-pic-1

Ons werk volgens internasionale beste standaarde vir erfenishulpbronbepaling. Dit is belangrik om die sterk verband tussen bewaring en ontwikkeling, sowel as die implikasies vir die bestuur van erfenishulpbronne, te erken. Ons is sterk voorstanders daarvan dat die proses van erfenishulpbronbepaling inklusief moet wees en erns moet maak met die vraag: Wie se erfenis? Ons wil die waardes en sienings van alle deelnemers aan die projek weergee sodat die beskermde erfenishulpbronne in die munisipaliteit uiteindelik ’n ware weerspieëling van ons komplekse en uiteenlopende samelewing sal wees. Daarom is ons benadering tweeledig, met verskeie ruimtelike oorsigte van erfenishulpbronne aan die een kant en verskeie sosiale waardes, narratiewe en stemme aan die ander. Die eindresultaat is grafika en data wat ons die hoëvlak- plekgebonde, gebiedsgebaseerde landskappe (bo-na-onder) sowel as die hoogs unieke of terreinspesifieke kenmerke (onder-na-bo) help verstaan. Soos figuur 1 toon, is die projekgebied uitgestrek en veelsoortig, en word dit deur duidelik onderskeibare wildernis-, landelike en stedelike domeine gekenmerk. Dit bevat ruwe bergreekse en ’n tiental valleie wat verskeie mense oor etlike jare heen aangepas het om hulle op verskillende maniere daar te vestig.

fabio-pic-2

Die riviervalleie, van die grootste (Eersteriviervallei) tot die kleinste (Idasvallei), is tipiese ‘kulturele landskappe’. Dié valleie is belangrik, want dit is ekonomies produktief en terselfdertyd skilderagtige toeristehulpbronne wat nasionaal én internasionaal hoë status geniet. Idasvallei is byvoorbeeld in 2004 tot nasionale erfenisgebied verklaar en sommige munisipale gebiede maak deel uit van die voorgestelde Kaapse Wynland-kultuurlandskappe op die voorlopige lys van UNESCO-wêrelderfenisgebiede. Stellenbosch self is ’n befaamde toeristebestemming. Toerisme is ’n uiters belangrike ekonomiese aandrywer wat op die beskerming van outentieke uitsiglandskappe en dorpskapkenmerke berus. Trouens, erfenis is wat die grootste deel van die munisipale gebied Stellenbosch kenmerk.

fabio-pic-3

Die Span

Die projekleiers is Fabio Todeschini en Liana Jansen. Hulle beskik oor kennis en vaardighede op die gebied van professionele argitektuur, landskapargitektuur, stadsbeplanning, stedelike ontwerp en erfenishulpbronbestuur. Albei het reeds aan verskeie projekte in die Wes-Kaap en die Stellenbosch-omgewing gewerk.

fabio-pic-4

Die projekleiers werk saam met die volgende konsultante: dr Antonia Malan, ’n historiese argeoloog wat al uitvoerige navorsing oor die Wes-Kaap onderneem en gepubliseer het; Tracey Randall, ’n kultuurhistorikus wat jare lank in minderbevoorregte gemeenskappe in die munisipale gebied gewerk het; Shawn Johnston van Sustainable Futures ZA, wat heelwat ondervinding het van openbare deelname aan verskeie projekte; Simon Nicks van CNdV Africa, wat meewerk tot ’n parallelle en gekoördineerde landelike gebiedsplan, en Cedar Tower Services, wat deskundige dienste op die gebied van geografiese inligtingstelsels lewer. Die span doen verslag aan ’n munisipale bestuurskomitee wat bestaan uit amptenare sowel as ander professionele individue wat oor baie ervaring beskik en waarde aan die projek toevoeg. Daarbenewens was ons gelukkig genoeg om genooi te word om projekmateriaal op die webtuiste van die Stellenbosch-erfenisstigting te plaas:(http://www.stellenboschheritage.co.za/)

Wetsvereistes en -implikasies

Die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (Wet 25 van 1999) (die Erfeniswet) het bepaal dat alle munisipaliteite binne tien jaar na die inwerkingtreding van die wet ’n inventaris van die erfenishulpbronne binne hulle regsgebied moet opstel of bywerk (art 9(3)(c)). Artikel 30(5) van die Erfeniswet skryf ook spesifiek ’n erfenisinventaris voor:

“Ten tyde van die opstel of hersiening van ’n stads- of streekbeplanningskema of ’n ruimtelike ontwikkelingsplan, of op enige ander tyd waarop hy besluit, of op inisiatief van ’n provinsiale erfenishulpbronowerheid waar die behoefte na die mening van sodanige owerheid bestaan, moet ’n beplanningsowerheid ’n inventaris opstel van die erfenishulpbronne wat binne sy regsgebied val en sodanige inventaris aan die betrokke provinsiale erfenishulpbronowerheid voorlê, wat die erfenishulpbronne wat voldoen aan die evalueringsmaatstawwe … in die erfenisregister moet aanteken.”

Stellenbosch Munisipaliteit het ons aan die begin van 2016 gekontrakteer om ’n inventaris en bestuursplan op te stel sodat die munisipaliteit aan die wet kan voldoen. In April 2016 het ons ’n fase Iverslag getiteld Approach, Concepts, Method and Preliminary Findings gelewer. Dit is ’n openbare dokument en is beskikbaar op die webtuiste van die Stellenbosch-erfenisstigting (sien hierbo). Die volgende stap is om ’n konsepinventaris van alle bestaande erfenishulpbronne in die munisipale gebied Stellenbosch op te stel. Dit sal vir goedkeuring aan Erfenis Wes-Kaap voorgelê word. Daarna sal alle aangewese graad II- en graad III-erfenishulpbronne in die provinsiale erfenisregister (art 30) opgeneem word. Boonop moet ons die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA) van ’n inventaris van enige voorgestelde graad I-erfenishulpbronne vir hulle goedkeuring voorsien. Stellenbosch Munisipaliteit het op 1 September 2016 ’n projekkoördineringsvergadering gehou. Daaruit het geblyk dat indien die munisipaliteit aan artikel 30(5) van die Erfeniswet wil voldoen, dit nie teen die sperdatum van Junie 2017 goedkeuring vir sy nuwe ruimtelike ontwikkelingsplan sal kry sonder die erfenisinventaris nie. Om die munisipaliteit hiermee by te staan, het ons dus ons projekfases soos volg aangepas:

 

  • Fase 1: Aanvang en beplanning – Jan-Apr ’16
  • Fase 2: Opname en inventaris – Mei ’16-Jul ’17
  • Fase 3: Inventarisverslag – Aug-Nov ’17
  • Fase 4: Bestuursplan – Des ’17-Apr ’18
  • Fase 5: Opleiding van munisipale personeel – Mei-Jul ’18

 

Waarom deelneem, en hoe?                                                 

Die mense wat op ’n plek woon en werk, het persoonlike kennis en ervaring van daardie gebied en weet ook waar om mense met ’n plaaslike geheue op te spoor. Hiermee nooi ons jou en/of jou organisasie om deel te neem en tot hierdie projek by te dra. Ons het reeds sommige van julle by ses plaaslike fokusgroepaanbiedings en -gesprekke ontmoet. Indien nie, kontak ons asseblief. Namate die projek vorder, sal jy uitnodigings na werksessies ontvang.

KONTAK ASSEBLIEF Shawn Johnston van
Sustainable Futures ZA by:  swjohnston@mweb.co.za.

Besoek ook gerus die webtuiste van die Stellenbosch-erfenisstigting vir meer oor wat op erfenisgebied gebeur én om as ’n belangstellende en geaffekteerde party te registreer. Die webtuiste bevat heelwat inligting en dokumente.

Erfenis is ‘n waardevolle bate vir almal – kom ons koester en beskerm dit.

Kliek hier vir die artikel in Xhosa.

Kliek hier vir die Engelse weergawe.