Vernietigende vure en histories geboue: Notre-Dame en Bloemfontein-stadsaal

29 April 2019

Die vuur wat die dak en dele van die Notre-Dame katedraal verswelg het, het mense wêreldwyd aangegryp.  Hoewel die omvang van die skade nog bereken word, is die gebou as geheel nie vernietig nie.  Die rede hiervoor is dat Gotiese geboue ontwerp is om die verpreiding van brande teen te werk.  Nie net die mure nie, maar ook die koepelplafon is met klip gebou en die vuur is daarom grootliks tot die buitenste houtdak beperk.  Die eerste stap nou is om die oorblywende struktuur  te stabiliseer voordat verdere ondersoek na die skade kan plaasvind.  Hommeltuie met kameras sal waarskynlik gebruik word om te help om die skade te bepaal en die verwagting is dat die restorasieproses dan jare sal duur – wat sekerlik ‘n monumentale projek gaan word.

Notre Dame – Foto deur Francois Guillot

In die konteks van erfenis is dit van betekenis dat die gebou nie noodwendig presies soos tevore herstel word nie. ‘n Kompetisie vir argitekte sal bepaal wat die ontwerp vir die (nuwe) spits en ander werk aan die gebou sal wees.  Notre-Dame is deel van die kulturele en materiële landskap van Parys en van 800 jaar Europese geskiedenis.  Dit is tegelyk ‘n simbool van Katolieke gesag en politieke mag.  Al dié faktore word dus in ag geneem wanneer die gebou opnuut vir ‘n volgende tyd bewaar word.

Die vorige dakstruktuur van Notre Dame dateer uit die 12de eeu en het die naam “The Forest”, ‘n ruimte van 1300 houtrame. Foster het ‘n opgedateerde ontwerp met glas en staal voorgestel, asook die potensiaal vir ‘n observasiedek.  Norman Foster het aan The Guardian gesê dat in alle gevalle word die mees gevorderde bou-tegnologie gebruik vir die herstel van geboue en word die oorspronklike nooit gedupliseer nie.

Bloemfontein City Hall

Op eie bodem gaan die restorasie van die Bloemfonteinse stadsaal (wat na bewering deur stakende munisipale werkers op 21 Junie 2017 aan die brand gesteek is) voort en behoort na beraming aan die einde van die jaar voltooi te word.  Argitek Anton Rood verduidelik dat van die materiaal vir die herstelproses uit Suid-Afrika kom, maar dat byvoorbeeld die hout vir die vensterrame en dakplate ingevoer word.  Spesiale stowwe is ook gebruik om die marmervloere skoon te maak.

Restoring the hall

Die stadsaal, verklaar as nasionale erfenis, is in 1935 ontwerp deur die Suid-Afrikaanse argitek, Gordon Leith, en word gekenmerk van buite deur sandsteenmure, met ‘n Italiaanse styl binne.

Leave a Reply