Die Flèche van Notre Dame, Parys

19 Augustus 2020

Marilyn Martin, se mening oor die Franse regering se planne om die spitstoring van die Notre Dame te restoureer is ‘n deurdagte invalshoek op die katedraal en op hoe ons oor die algemeen oor erfenis dink. Haar mening, bevat ook ‘n interessante voetnoot deur Schalk le Roux, afgetrede professor en hoof van die Departement van Argitektuur van die Universiteit van Pretoria om die Franse woord flèche vir spitstoring in Afrikaans te aanvaar. Flèche as term is reeds in Engelse woordeboeke opgeneem.

Ter inleiding, iets oor terminologie: die korrekte term vir die struktuur wat onder bespreking is, is die Franse woord flèche, ook in Engels en dus in Afrikaans. Ek het self die woord ‘toring’ gebruik, maar dit kan nie korrek wees nie, want Notre Dame se twee torings (towers, tours) staan nog. My woordeboek gee aan ‘spitstoring’ vir ‘spire’, maar dié benaming is volgens Banister Fletcher ook verkeerd. In sy boek A History of Architecture on the Comparitive Method (1963) is daar definisies en talle voorbeelde van hierdie verskillende elemente in die argitektuur. Oral word ‘spire’ gebruik, so ‘spitstoring’ is klaarblyklik aanvaarbaar, maar beslis nie ‘toring’  nie.[i]  

Notre-Dame-katedraal in Paris is grotendeels in die dertiende eeu gebou en is 150 jaar gelede aansienlik deur Eugène-Emmanuel Viollet-le-Duc gerestoureer. Die argitek het verkies om nie die oorspronklike hout-spitstoring (1220-30), wat lank reeds daarmee heen was, te repliseer nie, maar om dit te herontwerp volgens sy tyd en sy ideale as praktisyn van die negentiende-eeuse Gotiese argitektuur-herlewing.

‘n Verwoestende brand het groot dele van die gebou in April 2019 vernietig en die 93-meter-hoë spitstoring het ingetuimel. Die Franse president Emmanuel Macron het entoesiasties gepraat oor ‘n vindingryke restourasie en hoe Notre Dame ‘n nuwe spitstoring sou kry. Die katedraal sou mooier wees as ooit tevore. Hy het bygevoeg dat die projek binne vyf jaar voltooi moes word vir die Olimpiese Spele in Parys in 2024. Sowat 1,000 argitekte en ander deskundiges het dié tydskaal bevraagteken en die president gevra om te heroorweeg. Die eerste minister het ‘n internasionale kompetisie aangekondig.

Kopiereg Laurent P

Argitekte, ontwerpers en kunstenaars het onmiddellik gereageer met voorstelle vir die katedraal se dak en spitstoring. Sommige was vergesog en sommer verspot, byv. ‘n parkeerterrein, swembad, kitskos-restaurant of ‘n plat glasdak; ander het met kreatiewe oplossings vorendag gekom:’n spitstoring uit Baccarat-kristal wat snags belig sou word; een uit gebrandskilderde glas met bypassende dak;’n stedelike kweekhuis; ‘n goue vlam om die ramp te herdenk; en spitstorings wat eietydse tegnologie vier – ‘n goties-geïspireerde struktuur, maar van staal en glas gebou; ‘n ware flèche, wat lig boontoe uitstraal na die hemel. Die Gotiese bouers het mos hemel toe gereik met hul puntige boustyl en gebrandskilderde vensters.

En toe kom die ommeswaai en die aankondiging dat ‘n identiese replika van Viollet-le-Duc se spitstoring opgerig gaan word. Dit sluit aan by ‘n besluit van die Franse Senaat verlede jaar dat die restourasie so na as moontlik aan die mees onlangse visuele voorkoms moes wees. Miskien het dit ook te make met Macron se begeerte om die werk teen 2024 voltooi te hê.

Kopiereg EPA

Viollet-le-Duc sou nie saamstem nie. Hy het sy tydgenote, wat style uit die verlede slaafs nagevolg het, skerp gekritiseer en ‘n vraag gestel wat vandag nog pertinent is: sou sy eeu veroordeel word “… à finir sans avoir possédé une architecture à elle? Ne transmettra-t-elle à la postérité que des pastiches?” (“om te eindig sonder om ‘n argitektuur van sy eie te besit? Gaan ons net pastiches aan die nageslag oorlewer?”) Ons eeu het ‘n argitektuur van sy eie, maar dit gaan nie in die Notre Dame restourasie weerspieël word nie.

Dié besluit van die Franse regering bied ‘n makliker, minder omstrede oplossing, maar dit ly gebrek aan verbeelding en visie. Om ‘n gebou te restoureer beteken nie dat dit bewaar, reggemaak of herbou moet word nie; dit beteken dat dit herstel moet word in ‘n toestand van volmaaktheid wat nie vantevore kon bestaan nie. ‘n Middeweg moes gevind word, een wat eer betuig aan die katedraal en sy geskeidenis, maar wat spreek tot die een-en-twintigste eeu.

 

Marilyn is ‘n ere-navorsingsgenoot van die Michaelis-Kunsskool en onafhanklike kurator en skrywer.

[i] Ek het die volgende waardevolle inligting van Schalk le Roux ontvang: “Spits is ‘n veelbetekenende woord wat die punt van die toring en ook die daknok kan beskryf. Ons het in die klas by UP spitspyl of die aangepaste fleche, sonder die gravis, gebruik omdat die uitspraak nie verander nie en die studente gesukkel het met aksenttekens behalwe kappies en umlauts wat klankverbuigings verduidelik het. Met vandag se tegnologiese hulpmiddels sou dit moontlik wees om die aksent weer terug te bring en eenvoudig die Franse woord as volwaardige leenwoord by Afrikaans in te kraal. Dit is nie in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem nie en ek gaan hulle daaroor kontak. Ek dink mens kan maar die oorspronklike woord aanvaar en dit dan omskryf.”

Leave a Reply