’n Woonhuis binne-in die afgebrande ruïne van ‘n twaalfde eeuse kasteel is bekroon met die 2013 Stirling-prys vir argitektuur. Die prys word toegeken deur RIBA (Royal Institute of British Architects) aan enige gebou binne die Europese Unie deur ‘n argitek wat lid is van RIBA.
Vanjaar se wenner is Astley Castle wat op English Heritage se lys van geboue in gevaar (‘at risk’) was sedert dit in die 1970s deur ‘n brand verwoes is. Op sy dag het dit gedien as tuiste vir drie koninginne, ’n parlementêre garisoen tydens die Britse burgeroorlog en hotel, aldus die Guardian.
Riba-president Stephen Hodder het dit beskryf as ’n“uitsonderlike voorbeeld van hoe moderne argitektuur ‘n antieke monument kan laat herleef”. Die waarde lê daarin dat dit nie ’n konvensionele restourasie-projek was nie maar die plasing binne-in van ’n “ongelooflik sterk kontemporêre huis wat op kundig met 800-jaar se geskiedenis verweef is”.
Astley Castle is in opdrag van English Heritage gerestoureer en sal voortaan as vakansiehuis verhuur word.
Hoewel ou geboue op die Europese vasteland al “vir jare” op hierdie manier gerestoureer (of bygewerk) word (dink aan Castelvecchio in Verona deur Carlo Scarpa of Sverre Fehn se Hedmark-katedraalmuseum), meen Rory Olcayto, adjunk-redakteur van The Architect’s Journal, vanjaar se wenner sal ’n keerpunt bring in die manier waarop daarin die VK na historiese geboue gekyk word.
Aanvanklik is gemeen Niall Mclaughlin se Bishop Edward King-kapel in Oxfordshire gaan met die prys wegstap, ’n sentiment wat deur die beroepswedders weerspieël is.
Oor die kortlys het Rowan Moore (Observer) geskryf dat dit vir die eerste keer in ’n baie lang tyd nie behep is met die ikoniese nie. Ook die onderskeie argitekte beskik nie oor die sterstatus wat so lank die kortlys oorheers het nie – Moore betwyfel egter nie hul vermoëns nie. “Die Stirling bied eerder ’n beeld van die Briste Eilande waar argitektuur goed gemaak en subtiel is, en een is met natuur en geskiedenis.”
Die ander geboue op vanjaar se kortlys was:
- Newhall Be-behuisingsontwikkeling in Newhall, Essex deur Alison Brooks Architects.
- Hawkins Brown and Studio Egret West se volledige herbesoek van die Park Hill munisipale behuising (“council estate”) in Sheffield (dit dateer uit die 1960s en geniet nou bewaringstatus).
- Limerick Universiteit in Ierland se mediese skool deur Grafton Architects.
- Heneghan Peng se besoekersentrum by Giant’s Causeway, ook in Ierland.
- Bishop Edward King-kapel in Oxfordshire deur Niall Mclaughlin.
- Alison Brooks Architects
- Hawkins Brown and Studio Egret West
- Grafton Architects
- Heneghan Peng
Vir meer inligting:
http://ribastirlingprize.architecture.com
http://www.independent.co.uk/arts-entertainment/architecture/stirling-prize-astley-castle-holiday-home-in-warwickshire-wins-prestigious-architecture-award-8842275.html?origin=internalSearch
http://www.theguardian.com/artanddesign/2013/sep/26/astley-castle-restoration-wins-stirling-prize
http://www.theguardian.com/artanddesign/2013/jul/21/stirling-prize-2013-shortlist
http://www.bbc.co.uk/news/entertainment-arts-23249129