Stellenbosch spog nou ook met ’n Nelson Mandela-plein

9 Oktober 2013

Madiba

Stellenbosch se bekende landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe het pas die dorp se eie Nelson Mandela-plein voor die stadsaal voltooi.

Dit is op 2 Oktober onthul deur mnr. Martin Smuts, die dorp se uitvoerende onderburgemeester. Dr. Ivan Meyer, provinsiale minister van kulturele sake en sport was die gasspreker.

Die idee om Madiba, soos hy in die volksmond bekend is, in Stellenbosch te vereer, het by Smuts ontstaan. Hy is ’n groot voorstander van openbare kuns en hy sê ’n beeld soos hierdie skep ook ’n geleentheid om mense na die middedorp te trek (eerder as te “stoot”). “Ek sien reeds nuwe gesigte van mense wat die stadsaal besoek.” Hy verwys ook na die mate waarin kuns ’n rol van kohesie kan speel.

Die keuse het op Strijdom van der Merwe geval, deels vanweë ander openbare kuns wat hy reeds in die dorp behartig het. Sy konsep het ook byval by die raad gevind, aldus Smuts.

Van der Merwe sê sy werk aan die Mandela-beeld het hom ‘n nuwe waardering vir die stadsaal gegee. Voorheen het die parkering die gebou tot ’n groot mate oorheers, meen hy. “Dit is ’n verskriklike mooi gebou, en ek het dit nooit raak gesien nie.” Van der Merwe vertel dat hy baie tyd by die stadsaal deurgebring het tydens die konseptualisering en ontwikkeling van die projek. Só het hy byvoorbeeld bewus geword van die bruin, hout hortjies en die wit van die gebou en die kleure in sy ontwerp herhaal.

Die ontwerp behels twee yster-silhouette van Mandela se gesig wat aan weerksante van ‘n muur aangebring word. Die oostekant (Pleinstraat se kant) het ook ’n kaart van die oostelike deel van Suid-Afrika met die plekke wat belangrik is in Mandela se lewe, daarop aangebring. Dit sluit in Qunu, Rivonia, Johannesburg ens. Dieselfde geld die westekant (stadsaal se kant) van die muur.

’nAanhaling uit Nelson Mandela se eerste parlementsopening verbind die muur (aan die noordekant van die nuut-aangelêde grasperk) met ’n bankie aan die suidekant (Andringastraat). Die woorde – Never, never and never again shall it be that this beautiful land will again experience the oppression of one by another – is in granietletters in die grasperk ingebed. Saans sal slegs die Mandela-beeld en bankie belig word.

Madiba 2

Die keuse van die terrein voor die stadsaal eerder as, byvoorbeeld, Die Braak, het met heelwat oorweging gepaard gegaan, sê Smuts. Buiten Die Braak se eiesoortige geskiedenis, sou ‘n betonstandbeeld ook moontlike toekomstige ontwikkeling in of om Die Braak kon beïnvloed. Smuts meen ook die stadsaal-terrein het, vir hierdie soort beeld, ’n groter trekkrag.

Van der Merwe sê openbare kuns is nie net ’n ding wat daar staan nie, dit behels die hele terrein. Die woord wat hy gebruik, is ploemps. “Ek was nog nooit ‘n kunstenaar wat iets in die studio maak en dan: ‘Ploemps, daar staan dit!’, nie.”

Leave a Reply