Stellenbosch gunstelinge

30 September 2014

Watter is Stellenbosch se aanskoulikste geboue? ’n Paar Stellenbossers het vir ons hul voorkeure gegee.

Strijdom van der Merwe, bekende Stellenbosch kunstenaar, se lys lyk so:

  1. Koetsiershuis (Alexanderstraat 40)
  2. Burgherhuis (h/v Alexander en Blomstraat)
  3. Jubileumhuis (Dorpstraat 126)
  4. Van der Bijlhuis ( Markstraat 137)
  5. Huise van vrygestelde slawe (Hertestraat 15-35)
  6. De Witt-Huis (Pleinstraat)
  7. Georgiaanse straataansig (Dorpstraat 100-116 en 127-135)
  8. Dorpstraat 158

Uitvoerende Burgemeester Conrad Sidego se motiveerde lys sluit in:

  • Andringastraat (by Crozierstraat kruising) – gedurende die winter van 1940 het oproerigheid van studente op kampus hier uitgebreek, en dit was gemik teen persone wat as “kleurling” geidentifiseer was. Stellenbosch Universiteit het nie ‘n geskiedenis van opstand nie, en die huisies waar die bruin gemeenskap eers woonagtig was, is deel van die geskiedenis wat nie altyd vertel word nie.
  • Red House, 68 Kahlerstraat, Idasvallei (outentieke Victoriaanse boustyl) – sekerlik die enigste gebou in hierdie styl, en omdat dit in Idas Vallei is. Geregistreer deur die South African Heritage Resource Agency. Dit val buite die gewone erfenis gebou identiteit waarvoor Stellenbosch bekend is, en ook omdat die ligging in Idasvallei is.

    Red House, Kahlerstraat 68

    Red House, Kahlerstraat 68

  • Oom Samie se winkel – om terug in tyd te gaan en al die bekende reuke en aromas te herleef van destyds, terwyl alle produkte in die winkel te koop aangebied word.
  • Rynse kerk – in 1823 as sendelingkerk opgerig, en die preekstoel is ook ‘n gedenkwaardigheid.
  • St Mary’s kerk (op die Braak) – kerk dateer vanaf 1848, en is belangrik in die geskiedenis van Aglikane op Stellenbosch. Neo-Gotiese boustyl en was een van die kerke wat deur apartheidsjare ‘n gemengde gemeente gehad het.
  • Die Werkershuise / Arbeidershuise, Aan-de-Wagenweg – die huisies dateer vanaf 1902, en dui op hoe plaasarbeiders se huise daaruit gesien het. Moontlik deur Sir Herbert Baker ontwerp.

    Arbeidershuise, Aan-de-Wagenweg

    Arbeidershuise, Aan-de-Wagenweg

  • 37, 39 en 41 Hertestraat – dubbelverdieping geboue dateer vanuit 1841 en het moontlik as huise vir bevryde slawe en bruinmense gedien.
  • Idasvallei Kaapse Wynlande Kulturele landskap – die ligging, geskiedenis, erfenis en natuurskoon. Die area is ook belangrik in terme van die slawegekiedenis van die Wes-Kaap.

Bernabe de la Bat, bestuurder van ruimtelike beplanning, erfenis en omgewing by die Munisipaliteit se gunsteling is die Rynse pastorie vanweë sy besonderse plasing met die Pieke daaragter. “En dan moet daar plek wees vir ‘n groepie Georgiaanse geboue in Dorpstraat soos Gun ‘O Clock, of laer af die Transvaliakompleks of nader aan Dorpstraat 101. Ek dink die dubbelvlak Georgiaanse geboue wat skouer-aan-skouer staan versinnebeeld ‘n bepaalde dorpstraatkarakter eie aan Dorpstraat.”

Rynse pastorie

Rynse pastorie

Matilda Burden, hoogleraar in kultuurgeskiedenis en bekende skrywer en spreker se keuse is:

  • Schreuderhuis, Ryneveldstraat: Dit is een van die min huise op Stellenbosch waarvan die eksterieur sowel as die interieur nog ‘n regte ou-dorpse atmosfeer dra. Omdat dit ‘n pionierswoning is, weerspieël dit ‘n eenvoud en egtheid wat by baie van die deftiger Kaaps-Hollandse en Victoriaanse huise ontbreek. Die gedeelte van die oorspronklike huis wat behoue gebly het, is na bewering die oudste in Stellenbosch, wat beteken dat sy geskiedenis oor meer as driehonderd jaar hand aan hand met dié van die dorp geloop het.Ou
  • Hoofgebou, Ryneveldstraat: Nee, die Ou Hoofgebou word nie oorskat nie. Hy mag wel oorbekend aan Stellenbossers wees en dikwels voorgehou word as ‘n embleem of ikoon van die dorp, maar dit maak hom nie minder treffend nie. Die gebou is in die Renaissance-Klassisistiese Herlewingstyl met oorwegend Romeins-Klassieke elemente. Hy word met sy inwyding in 1886 die eerste gebou in Stellenbosch in hierdie grootse styl wat veral vir openbare geboue aangewend is. Sy ontwerp is in perfekte verhoudings wat ‘n statigheid verleen gepas vir sy funksie van hoofgebou van die Victoria Kollege.
  • Ou Bloemhofskool (tans Universiteitsmuseum), Ryneveldstraat: Hierdie gebou is in die Vlaamse Renaissance-styl en is met sy rooibaksteen-voorkoms ‘n landmerk vir die dorp en kampus. Die besondere Victoriaanse, Eduardiaanse en Art Nouveau versierings, gekombineer met die strukturele polichromie, maak dit uit ‘n estetiese oogpunt een van interessantste geboue in Stellenbosch. Die Ou Bloemhofskool-gebou staan vir meer as ‘n honderd jaar reeds in diens van opvoeding, aanvanklik as hoër- en laerskool, daarna slegs as laerskool en sedert 1991 as universiteitsmuseum.
  • Rynse kerk, langs Die Braak: Hoewel die Kaaps-Hollandse styl oorbekend is as huisboustyl in die Wes-Kaap, is daar ‘n baie beperkte aantal kerke in hierdie styl. Een daarvan is die Rynse kerk langs die Braak. Gebou in 1824 as ‘n reghoekige kerkie, is dit in 1840 vergroot met ‘n syvleuel waarteen die mooi Kaaps-Hollandse Neo-Klassieke pilastergewel geplaas is, en wat sedertdien as die hoofingang gedien het. Die gewel sowel as die ingang het baie besondere gegroefde pilasters en die twee weerskante van die voordeur is bekroon met Ioniese kapitele. Die preekstoel is in 1863 van die Moederkerk op Stellenbosch oorgeneem en verleen saam met die ander houtwerk in die interieur ‘n atmosfeer van warmte en nostalgie.

    Rynse Kerk op die Braak

    Rynse Kerk op die Braak

  • Moskee, Banhoekweg: Hierdie moskee is besonder interessant uit ‘n argitektoniese oogpunt, aangesien dit elemente van verskillende boustyle bevat. Afgesien van die stylelemente wat by die meeste moskees aangetref word, soos die Bisantynse koepel, die balustrade en die tipies Romaanse rondboog-openinge, vertoon hierdie een ook Gotiese kenmerke in die spitsboog-voordeur, en ‘n voorgewel wat herinner aan Kaaps-Hollands, hoewel nie ‘n tipiese een nie. Ook die gebruik van witgepleisterde mure en ander elemente gekombineer met die donkergroen in die koepel, dak en enkele ander versierings, getuig van Kaaps-Hollandse invloed.
  • Dorpstraat 37 – 43: Die reeks huise in Dorpstraat, no 37 tot no 43, weerspieël ‘n ware “Stellenbosch-gees” omdat hulle verskillende eras verteenwoordig. Hulle was aanvanklik tipies Kaaps-Hollands met ‘n simmetriese aansig, versierde voorgewel en rietdak (18de eeu); daarna is hulle vervictoriaans deurdat die rietdak met sink vervang is en ‘n Victoriaanse veranda met versierings toegevoeg is (19de eeu). In die 20ste eeu is hulle gerestoureer, en vandag word hulle bewoon deur mense van die 21ste eeu. Hulle gee dus iets van elke eeu weer en vorm saam met die eikebome ‘n onvergelyklike straatbeeld.

Pietman Retief se keuses sluit in die Moederkerk, die kweekskool-area, die Schreuderhuis, die Ou Hoofgebou, die Kruithuis, die Rynsekerk en pastorie en Oom Jannie se Coetzenburghuis. Hy koppel sy keuse aan die gemak waarmee besoekers se aandag op die argitektuur en geskiedenis gefokus kan word. Elkeen het ‘n besondere storie om te vertel en lewer ‘n besondere bydrae tot die karakter van Stellenbosch.

Watter geboue is jou gunstelinge? Laat weet gerus vir ons – dit help vir inwoners en ook besoekers as hulle die dag die dorp wil verken.

Leave a Reply