‘n Post-pandemiese toekoms – nadenke oor wat gaan verander en wat nie: Die langtermyn impak van Covid-19 op ons huise en stede.

12 November 2020

Janine Loubser

Janine Loubser is ‘n stadsbeplanner van Kaapstad en tans besig om haar
Meestersgraad in Ruimtelike Erfenis aan die Vrije Universiteit van Amsterdam te voltooi. Sy dien sedert 2018 op die raad van die Young Urbanist gemeenskap. Gefassineer deur diverste kontekste, is haar belangstelling in kulturele identiteit en mense se alledaagse ervarings van die stadslewe.
Hier gee sy haar ingeligte mening oor die impak wat Covid-19 op die ontwerp van huise en stadsbeplanning reeds het en moontlik nog kan hê.

Elke oggend om presies 10:30 gooi my buurvrou haar terrastuin nat. Teen ongeveer 12:00 gaan sit die bure bokant my buite vir middagete. Om 15:00 kan ek hoor hoe die stoele in die kafee onder in die straat opgepak word. Hierdie kennis oor ander se daaglikse roetines was eers van die ontdekkings wat grendeltyd opgelewer het, maar het intussen deelgeword van die bepalende kenmerke van baie mense se huidige werkomgewings.

Die impak van Covid-19 kan wêreldwyd gevoel word en het op verskillende maniere in mense se alledaagse lewens gemanifesteer. Na hierdie ingrypende verandering en met minder as ‘n kwart van 2020 oor, ontstaan vrae oor watter van hierdie veranderinge ‘n langdurige effek op ons lewens in die toekoms gaan hê. Hieroor is daar reeds verskeie (akademiese) artikels gepubliseer en steeds is daar radikale idees en konsepte wat in die see van veranderinge na bo syfer. Ontwerpers herdink verskeie aspekte van ons daaglikse lewens, insluitende modes, vervoer en huise. Voorbeelde hiervan is die ontwerp van nuwe Covid-bestande slimstede in China, die ontwerp van pasmaat en unieke maskers, Apple wat identifeseringstegnologie moes herontwerp omdat die maatskappy nie met maskers rekening gehou het nie en beleidsmakers en besighede wat riglyne rakende ons alledaagse lewens moet herdink en herkonseptualiseer.

Hoeveel van hierdie veranderinge gaan in die toekoms nog geld en bepalend wees, of net met verloop van tyd saam met die pandemie vervaag? Die geskiedenis wys dat daar in die verlede ook groot veranderinge ten opsigte van stadsbeplanning en sosiale leefstyle was wat verband hou met groot oorloë en pandemies en deur hierdie geskiedenis na te vors, is dit duidelik dat die mensdom wel die vermoë besit om kollektief teen ‘n krisis te reageer. Dit bly egter moeilik om nou, te midde van die pandemie, te oordeel watter veranderinge permanent gaan wees, net soos mense in die 19de eeu nie stadswye rioolstelsels en binneshuise toilette kon voorstel en voorspel het nie. Sommige van die nuwe beginsels wat die Covid-pandemie reeds opgelewer het, lyk sinvol. Sal hierdie beginsels steeds 10, 20 of 50 jaar van nou af geld? Sekere van hierdie beginsels of temas wat duideliker na vore kom en wat betrekking het op argitektuur asook dorps- en stadsbestuur, word vervolgens kortliks uiteengesit.

INSIDE: Homes and Neighbourhoods

Dit is ‘n realiteit dat huise op verskillende maniere gaan verander soos nuwe ontwikkelinge ontvou. Selfs al het grendeltyd verslap sodat ons minder tot tuisbly beperk is, het ons behoeftes tog intrinsiek verander en as gevolg hiervan word die ontwerp van private wooneenhede herbeskou. Hierdie verwagte veranderinge behels onder andere ‘n verbetering van akoestiek en ondersoek hoe mure klankdig gemaak kan word, of kan aanpas by verskillende ouditiewe behoeftes deur die loop van die dag. ‘n Verbetering van sanitasie word ondersoek deur te kyk na die beskikbaarheid van sanitasie-fasiliteite en hangplek vir maskers by die voordeur. Hierdie veranderinge is nie net in reaksie op die huidige behoeftes nie, maar spreek tot die nuwe waardes wat aan gesondheid en sanitasie geheg word. Gevolglik sal hierdie idees deel vorm van die ontwerp van huise in die toekoms, net soos huisontwerpe gereageer het op die nuwe regulasies aangaande tegnologie en elektroniese toestelle wat in die middel van die 20ste eeu beskikbaar geword het.

Alhoewel maatskappy en instansies aanvanklik mense verplig het om tydens grendeltyd tuis te werk, word die moontlikheid om voltyds of deeltyds van die huis af te werk as ‘n beleid deur baie maatskappye onderteken om ook sodoende gehoor te gee aan bestaande navorsing wat wys op die besparings en verlaagde emissies wat so moontlik gemaak word. Gevolglik sal werkspasie integrale deel van huisontwerp in die toekoms wees. Hierdie spasies kon toegewyde vertrekke of tydelike werkstasies wees en die ontwerp hiervan sal toenemend meer gesofistikeerd raak. ‘n Goeie voorbeeld is die Londense studio, Boano Prišmontas wat ‘n losstaande werkplek (home office pod) het wat met ‘n allensleutel in minder as ‘n dag aanmekaar gesit kan word om dan in ‘n tuin geplaas te word. Hierdie ontwerp maak dit moontlik om aan te pas tot die nuwe konteks sonder om strukturele veranderinge aan die huis te bring. Wat is egter die oplossing vir diegene wat nie ’n tuin het nie?

Boano Prismontas se bekostigbare modulêre tuiskantoor. Dezeen.

Boano Prismontas se bekostigbare modulêre tuiskantoor. Dezeen.

Terwyl sommige mense argumenteer dat toegang tot ‘n balkon ‘n mensereg moet wees, is daar ander wat voorstel dat beginsels vasgelê moet word om die lewensstandaard binne hoë digtheid ontwikkelings te verseker. Hierdie beginsels moet aspekte soos toeganklike gemeenskaplike sitkamers, vertrekke waar vergaderings gehou kan word en areas waar gesametlik tuin gemaak kan word, insluit. Die doel is om lewenskwaliteit in die toekoms in hierdie areas te bevorder, veral tydens pandemies en natuurlike rampe wat inperking noodsaaklik maak. Beginsels rakende gemeenskaplike fassiliteite en leefwyses is nog meer belangrik binne die konteks van informele nedersettings en bekostigbare behuising – veral in die konteks van Suid-Afrika se huidige mislukte benadering  tot die voorsiening van behuising. Nuwe ontwerpe kan bestaande geboue en ruimtes in ag neem, kostes laag hou en lewensomstandighede verbeter deur die omgewing te verbeter.

Die MINI Living projek in Sjanghai, waar klein wooneenhede met gedeelde tuine afgewissel word. China Architecture News

High Street is ‘n voorstel deur Noiascape en maak voorsiening vir leefareas wat verbind word met sitkamers en studeerkamers wat gedeel kan word.

Die kwessies rakende hoë digtheid ontwikkelings skyn ‘n lig op die vraag of ons samelewing nog woonbuurte met enkelwonings kan bekostig en of die Covid-pandemie ons geforseer het om die Woon-Werk-Speel konsep wat gewoonlik net as ‘n modegier beskou word, te sien as ‘n idee wat gegronde beginsels ondesteun en nuwe betekenis kan gee aan hoe woonbuurte ontwerp en bestuur word. In Parys het die 15 minute stadsmodel wat lank reeds deur stadsbeplanners voorgestaan word, nou te danke aan die pandemie ook deel van politici se beleidsvoorkeure geword. Hierdie model staan die desentralisasie van dienste voor. Die vraag is of politici hierdie model nou werklik gaan institusionaliseer sodat die beginsels ‘n grondslag van dorpsen stadsbestuur kan word. Kom ons hoop die skuif in waardes wat op die ontwerp van huise betrekking het, ook sal manifesteer in woonbuurte.

Die desentralisasie van dienste, bekend as die 15-minute stad, waar werkplekke, skole, dokters en ontspanning en vermaak alles binne ‘n 15-minute bereik van mense se huise is.

BUITE: Stede en infrastruktuur
Aangesien sosiale distansie die wyse definieer waarop mense in dorpe en stede veilig kan beweeg om die virus te vermy, het regerings van dwarsoor die wêreld gereageer deur onder ander strate vir verkeer te sluit en publieke spasies op kreatiewe maniere te herbenut. Van Bogotá na Moskou na Milan word belê in fietsry-infrastruktuur  en hierdie tendens word weer ondersteun word deur skerp verhogings in die verkoop van fietse wat met 60% gestyg het in Engeland en Amerika. In Litaue se hoofstad Vilnius het amptenare restaurante en kafee’s die reg gegee om oor 18 van die stad se publieke pleine te spoel. Soos die handhawing van sosiale afstand meer spasie vereis, het baie ander stede ook hierdie voorbeeld gevold en sypaadjies asook strate benut. Hierdie gebruik strek tot voordeel van beide besigheidseienaars en die publiek. In Suid-Afrikaanse dorpe en stede sal hierdie gebruike om nuut oor spasies soos strate, sypaadjies en pleine te dink, soortgelyke voordele vir besigheidseienaars en die publiek inhou.

Restaurante wat uitspoel oor Grote Markt plein in Haarlem. Janine Loubser, Sept 2020

In London is daar noemenswaardige beleidsveranderinge waar verskeie geboutipes, soos kantore, in behuising omskep kan word sonder dat die gebruiklike stel toestemmings van amptenare nodig is. Ten spyte van die fisiese en finansiële uitdagings, sal hierdie inisiatiewe om aanpasbaar te wees oor die hergebruik van spasies en geboue in woon- en ander buurte, met verloop van tyd meer robuust en genuanseerd word. Soortgelyk aan die voorgestelde veranderinge vir gemeenskaplike behuising, kan ‘n wyer fokus op die funksionele waarde van woonbuurte en parke ook tot sinvolle hergebruik lei.

Vinnige konstruksiemetodes sal nie slegs met China en noodsituasies geassosieer word nie. Modulêre konstruksie, waar standaard boukomponente vooraf in ‘n fabriek vervaardig word om die fisiese bouproses te versnel, het ook minder afvalmateriaal as tradisionele metodes. Covid-19 het bewys dat hierdie alternatiewe metodes lewens en geld kan spaar en daarom sal hierdie metodes toenemend deel word van die diskoers binne argitektuur. Dit is veral relevant binne die Suid-Afrikaanse konteks waar behuisingsbehoeftes toenemend ons stedelike gebiede definieer.

Die Healthcare Skyscraper , ‘n voorstel deur argitekte D Lee, Gavin Shen, Weiyuan Xu en Xinhao Yua, bestaan uit ‘n staalraam met verskeie funksionele eenhede wat binne vyf dae opgerig kan word en verbind word met ‘n hoofgebou.

Dit is makliker vir middelklas en meer welgestelde buurte om verandering te implementeer. In Suid-Afrika is die uitdaging om die armer buurte en informele nedersettings te ondersteun binne die konteks van yl ekonomiese vooruitsigte en bestaande sosio-ekonomiese uitdagings. Tegelykertyd is daar nou die geleentheid om oor behuising, woonbuurte en infrastruktuur te besin en alternatiewe te ondersoek, veral noudat ons besef hoe ons nie net as individue, maar ook as gemeenskappe van mekaar afhanklik is en gevolglik vir mekaar se welsyn moet sorg.

Die sosiale veranderinge wat voorlê is kompleks. Stygende ongelykhede, ekonomiese onsekerhede en ‘n afname in natuurlike hulpbronne maak hierdie veranderinge egter noodsaaklik. Die grootste veranderinge gaan waarskynlik nie wees as gevolg van fisiese veranderinge aan dorpe en stede nie, maar eerder in hoe mense kies om in hierdie veranderende omgewings te leef. Dit mag jare neem voor ons werklik weet en verstaan hoe die pandemie ontwerp en beplanning geaffekteer het. Ten minste weet ons nou dat hierdie insigte ten opsigte van waardes, asook die veranderinge wat reeds ten opsigte van huise en woonbuurte plaasgevind het, dui op positiewe en permanente veranderinge wat ons alledaagse leefwêrelde fundamenteel gaan verbeter.

deur Janine Loubser, 27 Sept 2020

Bronnelys:

Vilnius Shows How the Pandemic Is Already Remaking Cities: Outbreaks of disease have shaped urban life for centuries. By Yasmeen Serhan, 9 June 2020. https://www.theatlantic.com/international/archive/2020/06/coronavirus-pandemic-urban-suburbscities/612760/

Housing after coronavirus should feature bigger spaces and more balconies says Alison Brooks. By Marcus Fairs, 19 May 2020. https://www.dezeen.com/2020/05/19/alison-brooks-housingcoronavirus-balconies/

Boano Prišmontas creates modular garden office that’s “easier to assemble than IKEA furniture”. By Tom Ravenscroft, 17 September 2020. https://www.dezeen.com/2020/09/17/boano-prismontas-prefabricated-garden-office-modular/

China is building a high-tech ‘Covid-proof’ smart city designed for future lockdowns. By Rachel Hosie, 10 Sept 2020. https://www.businessinsider.co.za/tech/china-building-covid-proof-smartcity-designed-for-future-lockdowns-2020-9?fbclid=IwAR1KjikjfsiPtk0GX3nzhDkHUaRPGzmBUxawciMM8BenQjduBIyO5QT3SSQ

How the Coronavirus Will Reshape Architecture: What kinds of space are we willing to live and work in now? By Kyle Chayka, 17 June 2020. https://www.newyorker.com/culture/dept-of-design/how-the-coronavirus-will-reshapearchitecture?utm_source=onsite-share&utm_medium=email&utm_campaign=onsiteshare&utm_brand=the-new-yorker

Honey-Roses, J., Anguelovski, I., Bohigas, J., Chireh, V., Daher, C., Konijnendijk, C., …Nieuwenhuijsen, M. (2020, April 21). The Impact of COVID-19 on Public Space: A Review of the Emerging Questions. https://doi.org/10.31219/osf.io/rf7xa

IMAGINE Issue 2: Exploring the brave new world of shared living. Space10 x Urgent.Agency. https://space10.com/collection/imagine-exploring-the-brave-new-world-of-shared-living/

MINI’s First Project In Shanghai Transforms Former Paint Factory Into A Co-Living Concept China Architecture News. 26 April 2019 https://worldarchitecture.org/article-links/echvm/mini-s-first-project-in-shanghai-transformsformer-paint-factory-into-a-coliving-concept.html

London, New York, Paris and Milan give streets to cyclists and pedestrians. India Block, 7 May 2020. https://www.dezeen.com/2020/05/07/london-new-york-paris-milan-cyclists-pedestrians/

From garden streets to bike highways: four ideas for post-Covid cities – visualised. Chris Michael, Lydia McMullan and Frank Hulley-Jones. 25 Sep 2020. https://www.theguardian.com/cities/ng-interactive/2020/sep/25/garden-streets-bikesuperhighways-cities-future-coronavirus

Leave a Reply