Nuwe Wêrelderfenisgebiede

25 Julie 2019

Die Wêrelderfeniskomitee het onlangs wêrelderfenisstatus aan 29 nuwe gebiede gegee sodat die lys van erfenisgebiede nou 1121 inskrywings bevat. Die Wêrelderfeniskomitee bestaan uit verteenwoordigers van die Verenigde Nasies se Opvoedkunde, Wetenskap en Kultuurorganisasie (UNESCO)  en vanjaar se vergadering is in Baku in Azerbaijan  gehou. Om aan die vereistes te voldoen moes elke gebied aan ten minste een van tien kriteria voldoen het. Hierdie kriteria is opgesom as volg: om ‘n meesterstuk van die mens se skeppende vermoëns te verteenwoordig; om ‘n belangrike verandering van waardes ten opsigte van ontwikkeling in kuns, kultuur en ontwerp te verteenwoordig; om ‘n unieke of uitstaande getuienis te wees van ‘n kulturele tradisie; om ‘n uitstaande voorbeeld te wees van argitektuur of landskap wat betekenisvolle stadiums in die geskiedenis van die mens verteenwoordig; om ‘n uitstaande voorbeeld te wees van ‘n nedersetting; om direk geassosieer te wees met gebeure en idees van universele belang of voortgaande tradisies; om uitstaande natuurlike verskynsels te hê; om uitstaande voorbeelde van die Aarde se geskiedenis te weerspieël; om ‘n uitstaande voorbeeld te wees van betekenisvolle biologiese prosesse en om die mees merkwaardige natuurlike habitat vir biodiversiteit te besit.

Dis egter ‘n wrede ironie dat die Begrafplaas van Djulfa wat deel moes uitmaak van hierdie lys, deur Azerbaijan regering vernietig is.

Vyf van Djulfas se klipkruise

Begrafplaas van grootste versameling klipkruise in Djulfa

Party van die mensgemaakte gebiede wat tot die lys van wêrelderfenisgebiede toegevoeg is, is tien kerke in Pskov in Rusland waar die oudste kerk uit die 12de eeu dateer, ‘n heilige pelgrimstoevlugoord in die noorde van Portugal met die naam Jesus de Monte, die Khan paleis in Azerbaijan, die waterwerke van Augsburg in Duitsland en die stad Babilon in Irak. Ag geboue wat deur die Amerikaanse argitek Frank Lloyd Wright ontwerp is, is nou ook deel van ons wêrelderfenis. Lloyd se argitektuur word dikwels as organies bestempel as gevolg van die manier waarop die geboue met die natuurlike, oop vlaktes van Amerika saamsmelt, die grense tussen binne en buite wat met die geboue vervaag en die gebruik van staal en beton as boumateriaal.

 

Leave a Reply