Nuusbrief | Stellenbosch Erfenis Stigting

9 Oktober 2012

Nuusbrief, Vierde kwartaal 2012 

Beplande uitbreidings deur Universiteit Stellenbosch

Die lopende fase van beplande uitbreidings deur die Universiteit behels nuwe koshuise en uitbreidings aan bestaande koshuise op die grond begrens deur Victoriastraat, Maraisstraat en Merrimanlaan.

‘n Erfenisgebaseerde impakstudie deur dr. Elzet  Albertyn en Lize Malan is opgevolg met uitvoerige erfenisgebaseerde riglyne, opgestel deur spesialiste in stedelike ontwerp Mike Scurr, Peter Büttgens en Claire Abrahamse.

Die Universiteit se inisiatief om die riglyne te laat opstel verdien lof; dit is `n aanduiding van `n verbintenis tot sensitiewe stedelike ontwerp.  Ons steun die raamwerk en wil graag sien dat dit na die res van die kampus uitgebrei word, om `n raamwerk vir toekomstige uitbreiding te skep.

Die Universiteit se beplande nuwe uitbreidings is belangrik vir die dorp. Daarby is die riglyne van die spesialiste Mike Scurr, Peter Büttgens en Claire Abrahamse prikkelend en opwindend: dit verlewendig dooie ruimtes, onder meer met ‘n nuwe “groen” plein en interessante oorgange tussen die ruimtes van dorp en universiteit. Kliek hier om na die planne te kyk.

Kommentaar  op nuwe soneringsvoorstelle

‘n Voorstel vir nuwe sonerings in Stellenbosch is vir kommentaar op die tafel. ‘n Nuwe soneringskema is wenslik omdat die munisipale gebied aansienlik gegroei het, met onder meer die insluiting van Franschhoek en landelike gebiede. In die konsep-dokument word onder meer voorsien vir gebruike (en dus regte) wat tevore nie op Stellenbosch toegelaat is nie. Die Stigting ontleed nou die implikasies van die voorgestelde konsep, om vóór 5 Oktober 2012 kommentaar in te dien. U kan dit dan op die webwerf lees. Kyk intussen by www.stellenbosch.gov.za na die voorstelle.       

Prag en Praal en die Kaapse opstal

Die tema van Erfenis Suid-Afrika se simposium vanjaar is die agttiende eeuse Kaapse opstal en faktore wat bygedra het tot voorheen ongekende welvaart, soveel so dat goeweneur Rijk Tulbagh besluit om die sogenoemde prag en praal wette in te stel, om vertoon van oordaad minder opsigtelik te probeer maak. Die program vir die simposium en uitstappies na bekende plase van 4 tot 6 Oktober in Paarl is op die webruimte.

Stellenbosch se ideale straat

Die tydskrif Monocle bestee elke jaar heelwat tyd en geld op navorsing om ‘n lys saam te stel van die stede in die wêreld waar ‘n mens die beste lewensgehalte kan geniet. In uitgawe 55 skryf hul oor die ideale straat. Kortweg berus dit op die aanwesigheid van drie eienskappe (proportions, patina, people) maar in hul voorstelling van die ideale straat – Monocle Strasse – word dertien elemente uitgelig wat, so glo hulle, noodsaaklik is. Het Stellenbosch so ’n straat? En wat, dink jy, is nodig om so ’n straat werklikheid te maak? Besoek die artikel op die webwerf vir meer inligting en deel gerus jou idees op die forum.

’n Voorstel vir die bestuur van die Stellenbosse erfenis

Vir hul meesterstesis in monumente- en landskapsorg het die Belgiese studente Virgini Ryckeboer en Cyril Carton erfenisbeleid en die toepassing daarvan in Stellenbosch ondersoek. Die Braak en die Rynse kompleks van geboue was die verwysingspunt in hul projek, wat ook deur die Stellenbosch Erfenis Stigting en die Munisipaliteit gesteun is.

Ryckeboer en Carton het bevind die Braak en die Rynse kompleks word algeheel onderbenut; trouens die Braak het in ‘n verkeersirkel ontwikkel. As sulke ruimtes en geboue nie goed gebruik word nie, raak dit verlore (“use it or lose it”). Hulle beveel aan dat die dorp se vervoersituasie (insluitend openbare vervoer en parkering) dringend aangespreek moet word. Kliek hier om ‘n kort opsomming en die tesis te lees.

Beloftes van bome

By ‘n viering in Ryneveldstraat van Stellenbosch se twee oudste eikebome het die burgermeester, raadsheer Conrad Sidego, die voorneme aangekondig dat in sy bewind miljoen bome in Stellenbosch geplant word. By dieselfde geleentheid het die onderburgermeester, raadslid Martin Smuts, sý voorneme bevestig om besoeke aan die middedorp veilige, toeganklike en gerieflike sosiale geleenthede te maak met meer aktiwiteite en openbare kuns in die openbare ruimtes. Lees meer hieroor, en oor Stellenbosch se historiese bome en voorstelle vir `n groener Stellenbosch op die webwerf.

Mooi so

Van die geboue in die middedorp wat onlangs vernuwe is of goed opgeknap is, is De Oude Werf, in Kerkstraat; H. Spiro, op die hoek van Dorp en Bird; en Devonshire Huis, op die hoek van Kerk en Ryneveld.

Johann Slee by die Argitektuur Biënnale in Venesië

Johann Slee, Stellenbosse argitek (en lid van die Stigting se bestuur), is terug van sy deelname aan die argitektuur biënnale in Venisië. Sy installasie van 300 volstruiseiers is geïnspireer deur die spreekwoord ‘om op eiers te loop’. Slee sê die lewe, ons bestaan op aarde, is soos ’n (volstruis-)eier: ongelooflik sterk maar terselfdertyd bitterlik sensitief. Die biënnale met tema Common Ground is nog tot 25 November. Kliek vir meer inligting.

Gewels en Euwels

Fotograaf Erhardt Thiel woon en werk al lank tussen die Stellenbosse gewels – en hy het dit nog altyd geniet. Maar onlangs het hy sy kamera gedraai na iets wat al hoe meer kop uitsteek: euwels in die dorpsomgewing. Deur die kamera net effe te draai, wys hy hoe mooi en lelik begin het om saam te leef – en hoe immuun ons daarteen geraak het! Kyk na die uitstalling op die webwerf.

My oogpunt: Foto-kompetisie

In ‘n poging om meer mense, veral jong mense, te prikkel het die Sigting in erfenismaand ‘n hoogs suksesvolle foto-kompetisie aangebied.  Die projek is ondersteun in Eikestadnuus en op RSG, asook op 52 verskillende Stellenbosse sosiale bladsye, onder meer dié van verskillende studente koshuise, die studenteraad en skole in Stellenbosch. Kyk na die wenfoto’s op die webruimte of besoek ons op Facebook.

Raamwerk vir volhoubare ontwikkeling

Dennis Moss het ‘n uitvoerige raamwerk vir volhoubare ontwikkeling in Stellenbosch en omgewing opgestel. Hy glo Stellenbosch Munisipaliteit en sy vennote het buitengewone geleenthede om beslag te gee aan volhoubare ontwikkeling op ‘n wyse wat internasionaal voorbeeldig sal wees en wat ‘n veer in die hoed sal wees vir ons land, provinsie en vir die mense van die groter Stellenbosch.  Lees sy verslag: A Strategic Framework for Sustainable Development.

La Motte-praatjies

Die laaste twee praatjies in vanjaar se reeks fokus op skilderkuns, drukkuns en pottebakkery. Op 11 Oktober gesels joernalis Amanda Botha oor die lewe en werk van Jakob Hendrik Pierneef. Botha is besig met navorsing vir ’n boek oor dié ikoniese kunstenaar.

Ella-Lou O’Meara, pottebakker van beroep, bespreek op 8 November haar kunsvorm – en hoe dit deur die drukkuns beïnvloed word. Dit vorm deel van die Franschhoek Kuns-in-Klei-fees.  Kliek hier vir die volledige program.

Internasionale pryse, interessante beeldmateriaal om te sien

  • Die finaliste vir die voorste Britse argitektuur-toekenning, die Stirling-prys, sal op 13 Oktober weet wie is vanjaar £20 000 ryker. Die kortlys is David Chipperfield (David Chipperfield Architects vir The Hepworth, Wakefield), Ellen van Loon (OMA vir Maggie’s Centre, Glasgow en New Court, Londen), Alan Stanton en Paul Williams (Stanton Williams vir die Sainsbury-laboratorium, Cambridge), John Tuomey (O’Donnell + Tuomey vir die Lyric-teater, Belfast) en Philip Johnson (Populous, vir die Olimpiese stadion in Londen). Verlede jaar se wenner was Zaha Hadid vir die Evelyn Grace-akademie in Londen. Foto’s en beskrywings van dié geboue by   http://ribastirlingprize.architecture.com.
  • Rem Koolhaas ontvang die Jencks-prys vir 2012. Dit word toegeken aan ’n argitek wat in praktyk en die akademie ’n noemenswaardige bydrae tot die argitektuur gemaak het: http://www.architecture.com.
  • Die bekroonde Royal Gold Medal vir Argitektuur is toegeken aan die bekende Switserse argitek Peter Zumthor. “Given in recognition of a lifetime’s work, the Royal Gold Medal is approved personally by Her Majesty the Queen and is given to a person or group of people who have had a significant influence either directly or indirectly on the advancement of architecture”. http://www.architecture.com/NewsAndPress/News/AwardsNews/News/2012/PeterZumthorawarded2013RoyalGoldMedalforarchitecture.asp
  • Mei 2012: Pritzker Architecture Prize Laureate: Wang Shu http://www.pritzkerprize.com/2012/announcement

Stellenbosch Museum Halfeeufees

Stellenbosch Museum is vanjaar 50 jaar oud. Om alle Stellenbossers aan die halfeeuviering te laat deelneem, wor die publiek na vier geleenthede genooi.  Kliek hier om die volledige program te sien.

Stellenbosch Erfenis Stigting komiteelede: Raymond Bouma, Deon Carstens, Anel de Beer, Hugo Lötter, Willem Malherbe, Jolanda Morkel, Johann Slee, Corlie Smart, Chris Stander, Hannes van Zyl.

Leave a Reply