Wêreld Gebou van die Jaar aangewys

1 Desember 2016

Waar eens ‘n gat in die stedelike weefsel van die Poolse stad Szczecin was, is 2016 se Wêreld Gebou van die Jaar, die Dialoogsentrum, ‘n deel van die Szczecin-museum.

National Museum in Szczecin – Dialogue Centre Przełomy / Robert Konieczny + KWK Promes. Image via World Architecture Festival

Die gebou is geleë op ‘n belangrike straathoek en voorheen was daar ‘n park wat nie baie goed onderhou is nie. Die meeste geboue rondom die terrein is van historiese en argitektoniese belang en daarom was die intervensie baie sensitief en nodig. Dit sluit in die kerk van St Petrus en Paulus, die Koninklike poort en die Szczecin Filharmoniese Saal, wat met die Mies van der Rohe-toekenning (Europese prys vir kontemporêre argitektuur) bekroon is.

Boonop is daar met dié gebou ook ‘n gat in die geskiedenis van die stad en sy inwoners gevul. Ná WOII het die grense tussen Duitsland en Pole verander en al die Duitsers wat in daardie stadium in Szczecin (Stettin) gewoon het, is verskuif terwyl Poolse burgers weer in die stad hervestig is. In 1970 het die Solidarteit-beweging deelgeneem aan opstande teen die kommunistiese regering – op die terrein waar die Dialoogsentrum gebou is. Hierdie geskiedenis is vir baie lank ontken – iets wat met die Dialoogsentrum reggestel word.

Die sentrum, ontwerp deur Robert Konieczny + KWK Promes, is grotendeels ondergronds met net net die noordoostelike hoek wat bo die grond uitsteek. Die dak word dus ‘n publieke ruimte waar mense kan sit, slee ry in die winter en skaatsplank ry in die somer. ‘n ‘Gleuf’ in die kurwe is die ingang, met die uitgang aan die noordoostelike kant, wat gelig is. Beton-‘deure’, wat kan oopswaai, is die uitgange (en vensters). Wanneer dit toe is, is die fasade solied, maar deur dit oop te maak, vloei lig – sowel as die feite van die geskiedenis – vrylik deur.

Leave a Reply