Die probleem met Kopenhagen se soort stedelikheid

16 Augustus 2017

Ten spyte van die vele lesse wat daar te leer is by Kopenhagen, die Deense hoofstad, oor stedelike ontwerp, is daar een belangrike probleem wat dikwels misgekyk word: die grootte van Kopenhagen (600 000 inwoners) teenoor stede soos New York of Chicago.

Dit is die gevolgtrekking van kritikus Martin Pedersen na ‘n onlangse studiebesoek aan die Deense hoofstad, soos gepubliseer in ArchDaily.

Winter cyclist Copenhagen

Saam met ander Amerikaanse kollegas was Pedersen ’n gas van dieGehl Institute, gestig deur die praktyk van Jan Gehl, Pedersen noem verskeie punte waar die Deense hoofstad sukses behaal het in die skep van ’n inklusiewe en toeganklike stad:

  • Pedersen meen Kopenhagen is een van die mees beskaafde stede op die planeet. “Die oënskynlik moeitelose hoflikheid, Kopenhagen se ongelooflike grasie, is nie iets wat per toeval daar gebeur het nie. Dit is die produk van ’n gedeelde oortuiging wat verder strek as stedelike ontwerp, selfs al is die stad ’n onbetwiste laboratorium vir byna al die beste maniere van doen in die veld.”
  • Kopenhagen het ’n baie troste fietskultuur met helfte van die inwoners wat per fiets werktoe pendel, ongeag die weer.
  • Die fietslane in die stad is uitgebrei en ook meesal geskei van motorbane. “Maar selfs die onbeskermde lane het ’n vreemde, amper eteriese ewewig, asof fietse en motors tot ’n tipe kulturele verstandhouding gekom het. Dit voel ongesê, onbewustelik en uitermate veilig, maar dit is eintlik aangeleerde gedrag van beide fietsryers en motoriste.”
  • Die fietslane vorm deel van ’n groter, holistiese aanpak van stedelike ontwerp. “Die doel is nie fietsry per se nie, maar vervoer,” skryf Pedersen. “Dit is oor die bou van ‘n netwerk van keuses, met, as oorhoofse doel, die skep van ’n meer leefbare stad. Die formule is redelik eenvoudig: meer fietse is gelyk aan minder motors, minder geraas en minder besoedeling.”
  • Boonop is die “versiende benadering tot skep van plek nie beperk tot vervoer nie. Al die inisiatiewe wat ons gesien het – die parke, openbare ruimtes, voetgangerstrate, fietslane, gemaklike straatmeubels, hergebruik van ou geboue, selfs die  aanplant van bome (wat parkeerplek kanselleer!)— is gekoppel aan ‘n groter burgerlike doel: die skep van gedeelde openbare ruimte. Anders as enige Amerikaanse stad skep Kopenhagen die gevoel van ’n  groepspoging.”

En ongelukkig is dit waar Kopenhagen van Amerikaanse stede verskil, aldus Pedersen: “vinnige stedelike transformasie – van die soort wat ons in die toekoms desperaat nodig gaan hê – verg ’n sistemiese aanslag: die Kopenhagen-model. Al die inisiatiewe moet mekaar versterk. En om daardie vlak van ‘inkoop’ te kry, daardie vlak van konsensus, is uiteindelik nie ’n ontwerpprobleem nie, maar ‘n politieke en kulturele uitdaging.”

Leave a Reply