Stirling-prys word toegeken aan sosiale behuising

21 Oktober 2019

Goldsmith Street, ‘n projek vir gemeenskapsbehuising in Norwich, wen vanjaar se gesogte Stirling-prys vir Britse argitektuur.  Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat die prys vir sosiale behuising toegeken word.  Of, sê party kommentators, vir ‘n straat. Die besonderse innovasies van Goldsmith Street is tersaaklik in baie lande, en ook vir ‘n dorp soos Stellenbosch.

Die stadsraad van Norwich het Goldsmith Street ondanks ongunstige wetlike bepalings en finansiële omstandighede aangevoor.  Die argitekte wat hul vir die werk aangestel het, het ‘n  buurt ontwikkel, eerder as ‘n blok behuising. Besonderse kenmerke van die projek is die volhoubaarheid daarvan, die mensgerigte stedelike uitleg en die integrasie van talryke kleiner innovasies.

Die argitekte se ontwerp vir die geboue is goed afgerond en pas tegelyk in by tradisioneel aanvaarde riglyne vir Norwich se middedorp.  Die keuse en aanwending van boumateriaal voldoen aan Passivhaus-standaarde – kragverbruik is onder meer minder as sewentig persent van die algemene norm.

Ondanks die hoë digtheid – sestig woonstelle en vyf en veertig huise op minder as a hektaar –  bestaan meer as ‘n kwart van die ontwikkeling uit openbare ruimte.  Die argitekte, Mikhail Riches (David Mikhail en Annalie Riches), het aanvanklik die kompetisie om die projek te ontwerp gewen met ‘n voorstel dat die projek aansluit by die stad se historiese straatuitleg, eerder as om net (soos die ander voorstelle in die kompetisie) woonblokke oor die oop erf te versprei.

Goldsmith Street is ‘n baken van hoop, sê Alan Jones, voorsitter van die Royal Institute of British Architects (RIBA). Te midde van erge woningnood is dit ‘n transformasionele skema wat deur ander plaaslike besture nagevolg kan word.  Julia Barfield, voorsitter van die paneel wat die prys toegeken het, het die projek as ‘n beskeie meesterstuk beskryf.

Die projek hou lesse in vir ‘n dorp soos Stellenbosch, waar meer as sewentig persent van dosente en middelbestuur by Stellenbosch Universiteit, Stellenbosch Munisipaliteit en ander instellings op die dorp nie in Stellenbosch bly nie. Die middelgroep van veral jonger mense en eerste huiseienaars ry elke dag van buurdorpe om in Stellenbosch te werk. Hulle help dus om gemeenskappe elders te bou. In Stellenbosch is die belangrike middelgroep tussen die armste en die welgestelde gemeenskappe weggekalwe, omdat daar nie behuising is vir die groep nie.

 

Leave a Reply