Londen se burgemeerster wys “Kampvegters vir Ontwerp” aan

16 Augustus 2017

’n Groep van vyftig arigtekte en ontwerpers is deur die Londense burgemeester aangewys as “Voorstanders van Ontwerp” (‘Design Advocates’). Die doel is om te verseker die ontwerp en oprig van geboue in die Britse hoofstad is “hoë kwaliteit, inklusief en volhoubaar,” berig ArchDaily.

Dit vorm deel van ‘n groter inisiatief – “Good for Growth” – waarin die burgemeester, Sadiq Khan, onlangs verduidelik het hoe toekomtige ontwikkeling in Londen alle inwoners tot voordeel sal wees. Khan het gesê hy sal saam met ontwikkelaars, argitekte, beplanners, plaaslike owerhede en gemeenskappe werk om te verseker hierdie groei word behaal, aldus Dezeen.

Van die meer bekende name in Khan se groep sluit in argitekte Sir David AdjayePeter Murray en Alison Brooks. Die beplanner Daisy Froud en kenner oor stedelikheid (‘urbanist’) Tom Holbrook, albei dosente by die London School of Architecture (LSA), is ook op die lys.

Alison Brooks

Sir David Adjaye

Onderweg om binnekort tien miljoen inwoners te hê, moet Londen meer “sosiaal en ekonomies inklusief wees” en omgewingsvolhoubaar – alles kwessies wat Khan meen aangespreek moet word. “Ons moet Londen se vinnige groei omarm en hierdie kans gebruik om deur goeie argitektuur en beplanning ‘n werklike verskil in die lewe van Londenaars te maak,” het hy gesê. “En dit is ’n geleentheid om van foute uit die verlede te leer, sommige steeds sigbaar in die stad en wat die lewens van die gemeenskappe wat daar woon, versuur.”

“Een van die maniere waarop ek die beginsels van Good Growth wil toepas is deur die herbalanseer van ontwikkeling in Londen weg van hoë inkomste huise in sentraal Londen na meer bekostigbare eenhede.”

 

Die program het ook ten doel om:

  • Ambisieuse ontwerpstandaarde te stel.
  • Die toepas van hierdie standaarde en die onderneem van nougesette ontwerpassessering.
  • Die versterk van kapasiteit met die bekendstel van ‘n nuwe projek – “Public Practice” – wat talentvolle ontwerpers en beplanners binne plaaslike owerhede sal plaas vir tot ‘n jaar op ‘n keer. Dit sal die gebrek aan vaardighede aanspreek en ‘n gevoel van gemeenskaplike doel in die verbetering van die Londense landskap meebring.
  • Steun van diversiteit deur die firmas wat opdrage van ‘City Hall’ ontvang, te druk om die onderverteenwoordiging vna vroue en mense uit minderheidsgroepe in die bou-omgewing aan te spreek.
  • Gebruik van prosesse soos ontwerpkompetisies om die hoogste standaarde vir openbare projekte te verseker.
  • Die leiding neem, met die Greater London Authority as voorstanders en bevorderaars van goeie groei deur goeie praktykte te bevorder en suksesse te steun.

Leave a Reply