Fabio Todeschini, verkenner van landskappe, 1940-2018

7 Junie 2018

Fabio Todeschini

Fabio Todeschini was ’n onvermoeide verkenner van landskappe. As dosent en hoof van Universi-teit Kaapstad se skool vir argitektuur en stedelike ontwerp en as konsultant en aktivis het hy mede-werkers, studente en mede-mense in die algemeen aangemoedig om die landskappe van stede, lan-delike gebiede en wildernis raak te sien en beter te verstaan. Sy dood, stil en onverwags op die vooraand van formele goedkeuring van ‘n omvattende erfenisopname vir Stellenbosch en Franschhoek, laat ‘n leemte in die openbare ruimte, maar ook ‘n ryk nalating van kundige kartering en blywende invloed.

In ‘n terugkyk het sy lewe as verkenner en reisiger deur landskappe dalk vroeg begin. Fabio was vier jaar oud toe die gesin Todeschini uit die oorlog in Italië na Switzerland gestap het en hul in die Paarl gevestig het. Op skool was hy vriende met die seuns van Pius Pahl, nog ‘n vlugteling wat voor die oorlog die senior assistent was van Mies van der Rohe en in Stellenbosch een van die Wes-Kaap se voorste argitekte geword het. Die invloed van Pahl op Fabio lê onder meer in sy besluit om ‘n ook argitek te word.

In sy vak het hy hom met verloop van tyd toegespits op landskappe: die verstaan daarvan en die wyses waarop nuwe ontwikkeling uit ouer strukture kon groei. Sy keuse van studieveld is aangevul deur sy stap en sy reise, sy belangstelling in mense en gemeenskappe en sy wye agtergrond in kuns, musiek, en kultuur in die wydste sin van die woord. Sy oog was op al die spore wat mense op ‘n landskap laat. As kind en ook later het hy gereeld ver deur die Bolandse berge geloop. Op reis na ‘n nuwe stad êrens in die wêreld het hy selde sy verblyf meer as een of twee nagte vooruit bespreek. Hy sou onmiddelik openbare vervoer gebruik en die stad so wyd moontlik deurloop voor hy ‘n buurt en ‘n blyplek vir die res van sy tyd daar kies.

 

Met sy seun, Mario

As dosent en konsultant was hy ‘n harde werker, besielend en boeiend. Vir medewerkers en kollegas selfs vermoeiend, met sy noulettende aandag, geesdrif en lang ure. Ná sy aftrede as professor aan UK het hy steeds deurlopend gereis, lesings gegee by universiteite in Europa, Suid-Amerika, die Midde-Ooste, Afrika en Asië, en as konsultant opgetree vir owerhede in talle lande.

Op verkenning

Al sou hy ‘n omgewing goed ken, soos Stellenbosch en die wynlande, het hy elke opdrag begin deur opnuut te soek na patrone wat ‘n mens dalk nie meer raaksien nie. Hy sou wapaaie op ou kaarte navors en dan daardie roetes weer stap om te verstaan hoe en hoekom mense bepaalde keuses in hul gebruik van die landskap gedoen het. Deur boeke, briewe en dokumente sou hy verder soek om on-twikkelinge te verstaan en om daaruit vorm te gee aan nuwe planne. Sy verstaan van landskappe en omgewings was skerpsinnig en subtiel.

Sy begrip vir erfenis was ewe veel ‘n goeie ontleding van ‘n landskap en strukture as respek vir men-se. Dit was ruim, met ‘n klem op ruimte vir nuwe ontwikkeling in die kontoere van tyd. Hy was kortaf met ontwikkeling en besluite wat kortsigtig was en tot nadeel van die gedeelde openbare ruimte. Hy was ewe kortaf waar bewaarders eng wou bewaar, sonder voldoende begrip vir die dinamiek van ‘n historiese landskap en die behoeftes vir vernuwing en groei.

Fabio was ‘n vriend. In die Kaap en die Bo-Kaap, was ’n mens verwondered oor die versamelde kennis van kollegas en vriende om hom, dikwels mense op besoek van elders in die wêreld. In Stel-lenbosch, was die geskiedenis van die dorp ’n raakpunt, ook dat ons kinders opgegroei het in ‘n huis wat deur Pius Pahl ontwerp is. In Waenhuiskrans was hy gereeld ‘n gas was by ons of by bure soos mede-argitekte David Jack, Ron Kirby en Niel Grobbelaar.

In Waenhuiskrans kon ons kyk na vertonings wanneer Fabio van sy reise teruggekeer het. Hy het ruim foto’s aangestuur terwyl hy op reis was, maar ná ordening en met kommentaar deur hom kon ‘n mens bekende stede soos Parys of Milaan met nuwe oë verstaan en voel dat ‘n mens veraf bestem-mings in Iran, Brasilië, India, China of Afrika nou ken asof jy self al daar was. Sy foto’s is meesal nie enkel gekomponeerde foto’s nie, maar ’n aaneenlopende verhaal van ‘n omgewing, met klein be-sonderhede van die plek en die mense. Die enkele voorbeelde hierby is foto’s uit ‘n keuse van byna dertig wat hy onlangs op opeenvolgende dae aangestuur het na tydens ’n reis deur die dorpe Dali en Fenghuang in China.

Familie, kollegas en sy baie vriende sal Fabio onthou as ‘n besonderse mens en mede-reisiger.

Hannes van Zyl

31 Mei 2018

 

Lees ook huldeblyke van Dave Dewar en Martin Kruger.

 

2 thoughts on “Fabio Todeschini, verkenner van landskappe, 1940-2018”

  1. Cathy de Beer says:

    Hannes dankie vir ‘n baie mooi beskrywing van Fabio se lewe. Hy laat ‘n enorme gaping in geboue-en landskapserfenis
    Groete
    Cathyde Beer

  2. Berta Hayes says:

    Beste Hannes

    Baie dankie vir die gevoelvolle en interessante huldeblyk oor Fabio wat mens ‘n kykie in sy lewe gegee het. Sy heengaan was voorwaar ‘n groot verlies vir erfenis, en spesifiek ook vir Stellenbosch waarvoor hy met soveel passie gewerk het. Ons gaan hom mis, maar is dankbaar dat hy nog die erfenisopname vir Stellenbosch kon voltooi.

    Groete
    Berta

Leave a Reply