Sonder ’n bestuurder in die New York van môre

20 Augustus 2017

Hoewel motors wat hulself bestuur in Suid-Afrika grootliks tot papier beperk is, is stede in Noord-Amerika en Europa aktief besig om te beplan vir hierdie nuwe hoofstuk in vervoer.

BlankSpace het onlangs The Driverless Future Challenge aangebied waarin daar vir voorstelle gevra is wat aktief bydrae tot die vorming van New York se reaksie op motors wat hulself bestuur. Inskrywings uit meer as 25 lande het ’n wye reeks voorstelle bevat: van koswaentjies wat hulself bestuur en ’n ten volle outonome metro-stelsel, tot uitgebreide gebruik van New York se 311-stelsel as bestuurderlose versendingsentrum, en Link NYC Wifi-stasies wat haltes word vir self-bestuurde mikro-busse.

Die wen-inskrywing, gekies uit vier finaliste, was “Public Square”, ‘n sogenoemde “plug-and-play” skema wat New York se openbare ruimte vir sy strate en voetgangers sal omvorm.   ArchDaily berig die aanpasbare sisteem, ontwerp deur FXFOWLE en Sam Schwartz Engineering, “akkommodeer ‘n verskeidenheid tipes openbare ruimtes, terwyl voetgangers, fietsryers en motors in harmonie kan saambestaan”.

FXFOWLE

Die vierkante of pleine (‘squares’) wat deur Public Square voorgestel word bestaan uit verskillende eenhede wat inmekaar kan pas en dan die raamwerk skep vir “plug-and-play” konneksies, wat gemeenskappe toelaat om self hul strate oor te ontwerp. Public Square spring weg met die aanname dat bestuurderlose motors baie stedelike ruimte sal ontsluit wat tans deur privaat motors gebruik word vir parkering deur die grootste deel van die dag. Dit is ‘n stelsel wat begin deur parkeerplekke terug te neem, maar op ‘n baie groter skaal as wat tot nou toe gesien is. Deur die gebruik van ‘n “aanpasbare modulêre sisteem wat groei om stadsgrootte veranderinge te laat gebeur.”

“Dit is belangrik vir stede om hul infrastruktuur en beleidsdokumente gereed te kry vir die toekoms, eerder as om te wag dat hierdie tegnologieë die stad omvorm op maniere wat ons nie wil hê nie,” het Michael Replogle, adjunk-kommissaris vir beleid by die departement van vervoer en lid van die beoordelaarspaneel gesê. “Public Square bied ‘n veeslydige stel toerusting vir die hergebruik van ruimte vir ‘n verskeidenheid openbare behoeftes.”

Die drie ander inskrywings wat op die korltys was, spreek kwessies aan soos naspeurbare, mobiele en aanpasbare voedseltrokke, universele toegang tot saamry-geleenthede en last-mile transit deur gebruik te maak van motors sonder bestuurders as die katalisator.

In ‘n aparte voorstel het die New Yorkse argitektuurfirma Edg voorgestel om sommige van die belangriskte snelweë net vir motors sonder bestuurders te gebruik.  ‘n Video verduidelik die konsep waar kruisstrate gekombineer word met die groot snelweë al langs die rand van die stad. Hierdie “bestuurderlose snelweë werk in ‘n stelsel van aaneenskakelende sirkels (‘loops’), wat passasiers vinnig en effektief sal vervoer en verkeersvloei bevorder. Tans neem dit 40 minute om die rit van Grand Central Station na Lower Manhattan en terug te maak; met Loop NYC behoort dit slegs 11 minute te neem.”

Leave a Reply