Die spoor van oeroue kultuurerfenis

25 November 2019

Twee onlangse studies volg onderskeidelik die spoor van oeroue kultuurerfenis en die plek van homo sapiens se ontstaan na suidelike Afrika en dit het internasionale aandag op suidelike Afrika gevestig.

Diepkloof  – Erfenis Wes-Kaap

Bewyse van ‘n oeroue kultuur is op strande van die Kaapse suidkus gevind. Navorsers van die African Centre for Coastal Paleoscience van die Nelson Mandela Universiteit het bewyse gekry van patrone wat op duine en strande by Sedgefield, Knysna en Stilbaai gemaak is. ‘n Nuwe term is as naam vir hierdie patrone voorgestel, naamlik ammoglyph (van die Grieks ammos vir sand en glyph vir die kerf van ‘n simbool of beeld). Die span wag op die resultate van die proses om die patrone se ouderdom te bepaal, maar verwag dat die patrone tussen 70 000 en 158 000 jaar oud is. Die ontdekkings sal deel word van die Cradle of Human Culture-projek, ‘n inisiatief van die Wes-Kaapse regering om argeologiese en erfenisroetes in die Wes-Kaap bekend te stel met behulp van ‘n gebruikersvriendelike webblad.

Pinnacle Point naby Mosselbaai

‘n Ander span navorsers uit Australië beweer hulle het die presiese plek geidentifiseer waar homo sapiens in Afrika ontstaan het. Tot dusver is die algemene aanname dat homo sapiens ongeveer 200 000 jaar gelede iewers in Afrika ontstaan het, maar niemand weet presies waar nie. Die span van die Garvan Instituur vir Mediese Navorsing in Australië beweer homo sapiens het ontstaan in ‘n gebied wat van Namibië tot Botswana en suid van die Zambezi rivier tot in Zimbabwe strek. Hulle baseer hul bevindinge op ‘n analise van mitochondriale DNA wat hulle van inwoners van suidelike Afrika versamel het. Bekende navorsers oor die wêreld het egter in antwoord gewys op die kompleksiteit van die evolusie van homo sapiens en dat hierdie evolusie nie verklaar kan word net vanuit patrone wat fokus op die variasie in gene van moderne mense nie.

 

Leave a Reply