Implikasies van die gewysigde Artikel 44 van die LUPO-wetgewing

10 Oktober 2013

lupo

Die beplande ontwikkeling op die hoek van Breë- en Strandstraat val binne ‘n sogenaamde stedelike bewaringsarea in terme van die regulasies van die Kaapstadse soneringskema en spesiale toestemming om te ontwikkel moet bekom word van die stad se beplanningsafdeling.

Die Kaapse stadsraad se bestuurskomitee vir grondgebruik, Spelum, het planne vir  die voorgestelde ontwikkeling van die pakskuur en die bou van ‘n parkeerdek en kantore bo-op die bestaande struktuur op 13 April 2011 afgekeur waarna die ontwikkelaar, Gera Trust, na die LUK van plaaslike regeringsake en ontwikkelingsbeplanningvir geappelleer het. Minister Anton Bredell het in Gera Trust se guns besluit. In reaksie het die Habitatraad, ’n nie-winsgewende organisasie, en die Evangeliese Lutherse Kerk hul na die hooggeregshof gewend om Bredell se besluite ter syde te stel,  onder meer op grond van die ongrondwetlike bepalings van Artikel 44 van LUPO.

Bredell se verweer was dat hy ingevolge Artikel 44 van die Ordonnansie op Grondgebruikbeplanning no. 15 van 1985 opgetree het. Hy het later toegegee dat die sekere bepalings van Artikel 44 van LUPO ongrondwetlik kan wees, aangesien hy in effek kan inmeng met besluite van Munisipaliteite (wat in sekere gevalle ongrondwetlik kan wees).

Volgens Corlie Smart, erfenisprokureur en ondervoorsitter van SES, het die hof inderdaad bevind dat sekere gedeeltes van Artikel 44 van Lupo, wat van toepassing is op die Wes-Kaap en dele van die Oos- en Noord-Kaap, onkonstitusioneel is en sekere tussentydse wysigings aan artikel 44 is aangebring.

Voortaan sal die LUK (verwys na as die Administrateur in LUPO) nie ’n besluit rakende munispale beplanning wat deur ’n munisipaliteit geneem is, kan vervang met sy eie besluit nie. Slegs as hy/sy van mening is dat die besluit wat geneem is verkeerdelik geneem is, sal die besluit vir heroorweging terug verwys kan word na die munisipaliteit. Die munisipaliteit sal dan die keuse hê om die besluit te verander, of by die oorspronklike te hou.

Artikel 44 (2) en (3) van die Lupo bepaal nou dat die Administrateur enige àppelle wat na hom/haar verwys word gedeeltelik of in geheel handhaaf of terug verwys vir verdere oorweging. Die Administrateur kan slegs ‘n àppel terug verwys mits dit nodig is vir die Wes-Kaapse regering om op hierdie manier toe te sien dat die betrokke munispaliteit effektief optree. So ’n bevel moet redes vir die Administrateur se besluit bevat. Verdere àppelle na die Administrateur na hy dit een maal oorweeg het sal ook nie toegelaat word nie.

Enige àppelsake wat tans voor die minister dien en waar hy nog nie ’n besluit geneem het nie moet ingevolge die nuwe Artikel 44 beoordeel word.

Indien ’n party ongelukkig is oor die besluit van ’n munisipaliteit (nadat die LUK dit terug verwys het vir heroorweging deur die munisipaliteit), sal so ’n party die hooggeregshof kan nader vir ’n aansoek om die besluit van die munisipaliteit tersyde te stel.

Leave a Reply