Historiese Huise, byderwetse besigheid

9 Oktober 2013

Nie elke maatskappy kan hom daarop beroep dat dit sedert die ontstaan nog elke jaar dividende uitbetaal het nie. En dít boonop met ’n sakeplan wat wat hom beywer vir die bewaring van ou geboue.

Dit doen natuurlik nie skade nie dat heelwat van die (oorspronklike) beleggers “nog nooit” hul dividende-tjeks gewissel het nie. “Gebruik die geld vir die doel waarvoor die maatskappy gestig is,” is die onderliggende boodskap, aldus mnr. Pieter Kotzé, onlangs aangestel as hoof uitvoerende beampte.

En hierdie doel is die koop, restoureer en verhuur van geboue wat werd is om bewaar te word.

Minder as ’n jaar nadat dr. Anton Rupert die vorming van so ’n maatskappy vir die eerste maal voorgestel het, is Historiese Huise van Suid-Afrika Beperk op 31 Maart 1966 as openbare maatskappy geregistreer. Rupert was self die eerste voorsitter van die direksie, met name soos dr. W.E.G. Louw, prof F Smuts en mnr. I.M. Hoogenhout wat saam met hom gedien het.

Onder die oorspronklike (en huidige) beleggers tel Suid-Afrikaanse reuse soos Anglo American, Woolworths, Standard Bank, Sappi, SAB en Naspers.

Die geheim van HH se sukses blyk in die verhuur van hul eiendom te wees. Kotzé, soos Rupert, meen ’n gebou moet ’n nut hê. Al hul eiendom word om hierdie rede op kommersiële basis verhuur teen markverwante pryse. Volgens Kotzé is daar ’n waglys van mense wat belangstel in die huur van hierdie eiendomme, wat beteken HH kan selektief wees in die kies van huurders. Baie van die huurders bly dan ook vir jare.

Die huidige voorsitter van die direksie, mnr. Pieter van der Poel, noem vier doelwitte waarrondom HH gestig is, naamlik:

– Die aankoop, restoureer en verhuur van historiese geboue wat bedreig word;
– Om op te tree as fassiliteerder om die bewaring van bedreigde eiendom te bemiddel;
– Om die publiek op te lei in kulturele en bewaringsaspekte;
– Om op te tree as fassiliteerder in die ter boek stelling van die bewaringswette van Suid-Afrika.

Hoewel laasgenoemde tot ‘n groot mate voltooi is, vorm die ander drie doelwitte steeds hul grondslag, sê Van der Poel.

Op die oomblik besit HH slegs eiendom in die Wes- en Oos-Kaap.

Hy sê ook dat hy heeltemal te vinde is vir die aankoop van huise wat oud en reeds nasionale monumente is, maar nie net slegs van Kaaps-Hollandse styl, ook Victoriaans ens. Verder kyk HH wel na huise wat tans dalk nie oud is nie, maar wel van historiese en bewaringswaarde is.

Van der Poel is versigtiger: “Dit sal ’n bitter spesiale plek moet wees.”

Die aankoop van ou eiendom is dikwels moeilik, sê Kotzé, omdat mense dikwels hul pryse opskuif sodra hulle weet HH stel belang. Volgens Kotzé kan die maatskappy nie anders as om markverwante pryse te betaal nie en navorsing word deeglik gedoen om te verseker hul geld word reg spandeer. Dit gebeur ook dat ontwikkelaars dikwels meer aanbied as die markwaarde omdat hulle potensiaal sien in die ligging (byvoorbeeld). Hulle ontwikkel dikwels hul addisionele spasie aangrensend tot die geboue om dit kommersieel meer sin te laat maak en dit kan moontlik ten koste van die historiese waarde wees. Gelukkig is daar instansies soos Erfenis Wes-Kaap wat ‘n streng oog oor sulke aktiwiteite hou.

“Dis nie dat ons teen ontwikkeling is nie,” keer Van der Poel, “maar dit kan nie gebeur ten koste van bewaring nie.”

3 thoughts on “Historiese Huise, byderwetse besigheid”

  1. Sam Pienaar says:

    Met wie kan ek kontak bewerkstellig oor n moontlike gesprek oor n historiese eiendom in die Suid Kaap.

  2. Beste Mnr van der Poel.

    Op aanbeveling van Dr Ebbe Dommisse , Voorsitter van die Vriende van Welgemeend en Boerneefversameling wil ek graag met u kontak maak re restorasie van Welgemeend – Provinsioanale erfenis huis, Tiuine Kaapstad.
    Groete
    Helena le Roux (sekretaresse)

  3. Ek besit n historiese gebou en wil graag meer inligting bekom. Kontak my asb . Die eiendom is in Gansbaai wat n Vissermans huisie is.

Leave a Reply