Die beginsels agter Stellenbosch se Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk

29 April 2019

In die vorige nuusbrief is berig oor Stellenbosch Munisipaliteit se konsep vir die Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk en waarop die publiek tot in Mei kommentaar kan lewer. Die aanhef tot hierdie raamwerk wys daarop dat ontwikkeling in die Stellenbosch-omgewing onafwendbaar is en dat dit daarom nodig is om goeie beginsels onderliggend aan ontwikkeling daar te stel, sodat   ontwikkeling die gesonde groei van die wyer gemeenskap kan bevorder.

Die eerste van die sewe beginsels wys daarop dat natuurlike hulpbronne, soos landgebiede wat biodiverse lewe huisves, areas wat ons natuurlie waterbronne beïnvloed en grond geskik vir boerdery, beskerm moet word.  Tweedens moet die (on)beboude areas wat Stellenbosch se

kultuurerfenis huisves, asook areas met moontlikhede om ons kultuur uit te brei en te verruim, gerespekteer word. Hierdie twee beginsels loop uit in die derde beginsel waarvolgens ontwikkeling dan moet fokus op areas met geringe omgewings- en kultuurbelang, maar waar daar potensiaal vir publieke mobiliteit is.  Vierdens is dit nodig dat die verskillende gemeenskappe van Stellenbosch se rolle en potensiaal ten opsigte van die omgewing en kultuur uitgelig en bevorder word.  Vyfdens moet die plaaslike en streeksbehoeftes ten opsigte van vervoer en mobiliteit aangespreek word. Hiermee saam fokus die sesde beginsel op volhoubaarheid binne verskillende gemeenskappe.  Ten slotte moet die beskikbare en kollektiewe energie van ontwikkeling fokus op katalitiese en kritiese projekte.

Kommentaar deur kundiges bevestig die voorgestelde Stellenbosch Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk is konseptueel innoverend.  In opsigte is dit van die skerpste denke oor ruimtelike beleid in die land.  Onder meer stewe die raamwerk om openbare en korporatiewe denke te belyn, ’n belangrike oorweging waar beskikbare bronne van die owerhede beperk is.

Dit is daarby ook uniek in die wyse waarop dit ’n skakel vorm tussen nasionale en provinsiale beleidsdoelwitte, asook om die voetspoor van nedersettings binne perke te hou (met talle verwante voordele) en om realistiese haalbare groei binne die bestaande dorpsgrense uit te wys (soos bevoorbeeld die moontlikhede van die Adam Tas Korridor).

Die raamwerk raak komplekse kwessies, in ’n uitdagende omgewing.  Daar is nog nie ‘n ruimtelike beleid in die land wat so helder en duidelik is oor die kwessies wat nou deel is van die nasionale debat oor grondgebruik nie.

Waar burgerlike instansies in die afgelope weke in Stellenbosch die voorgestelde raamwerk bespreek het, was daar klaarblyklik en aansienlike opwinding oor steun vir die voorgestelde raamwerk, meer so as wat daar in baie jare vir so ‘n beleid in Stellenbosch was.

Leave a Reply