Gesogte argitektuur-toekenning vir Suid-Afrika

19 Augustus 2020

Suid-Afrika is in die kollig met argitek Jaco Booyens se goue medalje vir Argitektoniese Restourasie wat deur die Italiaanse maatskappy Fassa S.r.l. en Ferrara Universiteit aangebied word. Booyens, wat vanuit Robertson werk, het die prys saam met SAOTA argitekte van Kaapstad ontvang.

Op hul webblad verduidelik die beoordelaars dat die toekenning ‘n ontmoetingspunt is tussen uitmuntende vernuf op die gebied van restourasie, herontwikkeling en die herstel van bestaande argitektuur en landskappe. Daar was vanjaar 73 inskrywings uit bykans elke vasteland.

Booyens en SAOTA het plaasgeboue wat as erfenis verklaar is op die plaas Buffelsdrift, wes van Ladysmith in die Klein Karoo, restoureer. Tydens ‘n onderhoud op Die Groot Ontbyt het Booyens vertel van sy liefde vir en praktiese betrokkenheid by argitektoniese onwerp, sowel as fisiese bouprosesse. Hierdie passie, ervaring en belangstelling in die gebruik van tradisionele bouprosesse het hom toegerus om die gebou van 1852 te herstel. Verskeie families het al die plaas bewoon en elke familie het hul eie veranderinge aan die geboue aangebring, soos om die stoep te verbou of die rietdak met sinkplate te vervang. Booyens wou die restourasieproses getrou aan die oorspronlike doen, met erkenning vir die empatiese verhouding tussen eertydse geboue en die Karoo-omgewing. Dit was hoekom hy tradisionele metodes en materiaal tydens die restourasieproses gebruik het.

Leave a Reply