Die Adam Tas Korridor projek in konteks van die huidige uitdagings in ons gemeenskap

19 Augustus 2020

Die Adam Tas Korridor is ‘n spitsprojek in die ruimtelike ontwikkelingsraamwerk en ander beleidsdokumente van Stellenbosch Munisipaliteit. Die projek verteenwoordig samewerking tussen al drie vlakke van regering en het ook steun van Stellenbosch Universiteit, Stias, sake- en gemeenskapsleiers.

Stephen Boshoff het in die grendeltyd in ‘n elektroniese lesing aan fellows van Stias oral oor die wêreld ‘n oorsig van die Adam Tas Korridor gegee binne die konteks van studies van soortgelyke projekte elders in Suid-Afrika en in die wêreld. Lees sy opsomming van sy insigte vir lede van die Erfenis Stigting.

Die Adam Tas Korridor projek beoog ‘n gemengde hoë-digtheid ontwikkeling wat vier tot vyf keer die grootte van die Victoria & Alfred Waterkant is; ‘n inwonertal van meer as 50 000; 13 500 behuisings-geleenthede; onderig-en-leer en ander publieke fasiliteite; ‘n fokus op ondernemende ontwikkeling; geen motoraangedrewe interne mobiliteit, asook deurgaans ontwikkeling wat die ouer kern van Stellenbosch komplimenteer.

Die projek fokus nie op nuwelinge nie, maar op diegene wat reeds in die dorp werk, maar nie kan bekostig om daar te woon nie, asook op studente wie nie in die dorp geakkomodeer word nie. Beide groepe pendel daagliks na en van Stellenbosch met hoë persoonlike en sosiale kostes. Die projek wil graag help deur sover moontlik van ongebruikte of onderontwikkelde grond en strukture gebruik te maak, met respek vir die natuurlike en geboude hulpbronne.

Aanvanklike ingenieurs- en ekonomiese impakstudies dui op aansienlike voordele ten opsigte van  infrastruktuur-, werks- en voortbestaan geleenthede. Die dorp as geheel, grondeienaars, ontwikkelaars en individuele (permanente of tydelike) inwoners sal hierdeur bevorder word.

Die Adam Tas Korridor val binne ‘n gebied waar dit nie ‘n impak op die geskatte eiendomswaarde sal hê nie, aangesien die projek ruimtelike transformasie binne ons dorpsbeplanning en bestuur nastreef.

Die projek sal verskeie behoeftes in Stellenbosch aanspreek en respekteer die vrese van inwoners, selfs al is hierdie vrese ongegrond of kan as ongegronde vrese juis aanleiding gee tot dit wat gevrees word. Die projek kan werk en het reeds uitgebreide ondersteuning ontvang. Dit dien ook as ‘n platform waarvandaan die oorvloedige energie en verskeie vorms van kapitaal wat in Stellenbosch beskikbaar is, gesamentlik en tot die maksimum aangewend kan word om gedeelde doelwitte te bereik. Dit is ook meer as ‘n bou- en ontwikkelingsprojek en is eerder ‘n kollektiewe poging om die foute en verwaarlosing van die verlede aan te spreek en is ‘n reörientasie van die benadering tot die dorp se ontwikkeling.

Wat is die impak van en uitdagings wat Covid-19 nou en in die toekoms aan die projek stel? Die virus het baie van die publieke en private hulpmiddele geëis en verskeie mense en instansies moet nou op oorlewing fokus.

My argument is juis dat die projek nodig is binne die Covid-19 konteks. Om mee te begin, behoort die onderliggende motiewe van die projek in heroënskou geneem te word om die betekenis hiervan te ondersoek binne die konteks van die omvattende uitdagings wat die virus aan ons stel.

Verskeie ander navorsingsstudies wys daarop dat die projek juis in die huidige konteks van die pandemie met energie en dringendheid moet ontvou.

Toepaslike en onlangse projekte in Bilbao, Barcelona, Kaapstad (Victoria & Alfred Waterkant) en Cambridge het omvattende uitdagings hanteer. Alhoewel die individuele projekte min beheer oor die faktore van verandering, die mags- en befondsingsstrukture gehad het, het hierdie projekte tog uiteindelik transformasie binne hul stedelike en dorpsgebiede bereik met uitermate baie voordele vir die publiek as uitkoms.

Van die uitdagings wat hierdie projekte moes aanpak sluit in die uitgebreide verlies aan werk as gevolg van industriële veranderinge, onaantreklike en ongewenste omgewing as gevolg van besoedeling deur industrië in die verlede, infrastruktuur wat deur vloede beskadig is, die minderwordende finansiële volhoubaarheid van instansies asook die toenemende verlies aan mededinging binne die veranderende globale konteks.

Plaaslike voorbeelde van projekte waar geleenthede verlore is omdat die projekte nie voorbereidingswerk deeglik uitgevoer het nie, of momentum kon behou het nie, sluit die Distrik Ses projek en Kaapstad se bod op die 2004 Olimpiese Spele in.

In sekere opsigte en ten spyte van die vernietigende impak, het Covid-19 bygedra om die noodsaaklikheid van die Adam Tas Projek uit te wys. Vir beplanners is dit nodig om moontlike scenarios in die toekoms te skets en hoe dit uitspeel binne die konteks van die projek. Die impak van Covid-19 het ons egter egter met ‘n dekade of meer die toekoms in gestuur en gee ons die geleentheid om met ‘n toekomsperspektief ondersoekend te kyk na Stellenbosch se uitdagings wat nie in die verlede aangespreek is nie.

Stellenbosch het nou ‘n groeiende behoefte aan behuising en werksgeleenthede, geleenthede vir onderrig en opleiding asook vir die herkenning van die verskeie kulture in ons gemeenskap. Ons sal waarskynlik ‘n toename in misdaad en ander vorme van sosiale agteruitgang beleef. Daar sal toenemend druk geplaas word op publieke en private hulpbronne, op instansies sowel as private huishoudings.

Alhoewel op verskillende maniere, raak hierdie behoeftes almal. Ons vermoeëns om hierdie uitdagings op institusionele of individuele vlak te adresseer (of te ontsnap), het egter verswak.

Met ander woorde, die onderliggend redes waarom die Adam Tas Projek aanvanklik aangepak is, is nou met die Koronavirus in ons midde nie net steeds relevant nie, maar juis noodsaaklik, want ons uitdagings en krisisse het verdiep en verbreed.

Behoorlike stads- en dorpsbeplanning bewerkstellig voorbereidheid  – om die dorp en haar inwoners voor te berei om op beter maniere die toekoms binne te gaan.

Dit is ‘n moeilike taak omdat ons, al probeer ons hoe hard, nie die toekoms kan voorspel nie. Nie alles wat die toekoms inhou – waar ons woon, werk en die natuur  – is bekend aan ons nie.

Marcello Gleiser verwys na die soek na kennis as ‘n eindelose strewe: When we look at the world around us, we don’t see everything. We can’t… Humans have an urge to explore the unknown, what lies beyond their immediate reach. This may be our species’ most distinguishable trait … Given the very nature of knowledge, every discovery starts in ignorance. New discoveries may answer a few questions but invariably create new ones … Such is the wondrous nature of knowledge, the endless pursuit. [1] . Gleiser verwys ook na die eiland van kennis: As our Island of Knowledge grows, so do the shores of our ignorance, the boundaries between the known and unknown. The more we know, the more we discover we don’t know.

Wat ons wel weet is dat ons keuses het oor die besluite wat ons neem. Sekere keuses en gepaardgaande aksies kan ons beter vir die toekoms voorberei, terwyl ander ons voortbestaan kan vernietig.

Die 1918 Griep pandemie het stedelike beplanning en bestuur in die Kaapstad area beïnvloed. Aan die een kant het dit tot innovasie en noodsaaklike publieke aksie en fasiliteite gelei. Die Tuinstad Trust is in 1919 gestig en die regering het begin om behuising te ondersteun. Dit het ook tot die totstandkoming van die Groote Schuur Hospitaal gelei. Tog het dit ook tot rasse-segregasie gelei en die armer mense wat nie wit was nie, is na die randte van die stad verstoot omdat witmense bang vir hulle was, aangesien die armes die meeste deur die pandemie geraak is. Dit het gelei tot generasies se diskriminerende, ontnemende, ondeurdagte en duur stedelike beplanning en ontwikkeling.

Ons kan dus leer van ons verlede om sodoende nie dieselfde foute te herhaal nie. Hierdie bewussyn vergemaklik ons taak in baie opsigte. Terselfdetyd dui dit ook op die aard van die groot verantwoordelikheid wat ons het, omdat foute oor dekades en geslagte kan uitspeel en daar moet dus groot omsigtigheid aan die dag gelê word.

Ten opsigte van die hede is dit belangrik om te let op navorsing wat dui daarop dat die projekte en ontwikkelings wat suksesvol is, bestuur word deur leiers wat beide menslike en finansiële hulpbronne getrou rigting gee volgens plan, ten spyte van die konteks wat tot ‘n mate verander, byvoorbeeld plaaslike regerings wat mekaar kan vervang ten tye van die projek se verloop. Hierdie leiers het visie en is gefokus op wat bereik moet word. Suksesvolle projekleiers tree outentiek en bewus op. Hulle neem noukeurig kennis van soortgelyke projekte op ander plekke, maar hulle is passievol oor die spesifieke konteks en mense wat deur die projek geraak word. Hulle is die onuitputbare dryfveer agter projekte en hulle is oorredend as dit nodig is om bydraes van private mense of die wyer gemeenskap te kry.

Die projek wat hier beskryf is, is waarskynlik die mees koherente ontwikkelingsplan in Suid-Afrika. Ironies en hartseer genoeg, is die naasste soortgelyke plan die fisiese en sosiale segregrasie wat deur die apartheidsregering beplan en uitgevoer is. Die apartheidsbeplanning was omvattend en is konsekwent deur gefokusde leiers uitgevoer. Sterk leierskap en goeie beplanning is opsigself nie verkeerd nie, maar die doelwitte om te segregeer en die ontkenning van lede van die publiek se menswaardigheid en menseregte was verkeerd en onaanvaarbaar, met onverwoordbare skade wat die toekoms in strek.

Covid-19 maak dit duidelik dat ons die manier waarop ons stedelike ontwikkeling en nedersettings beplan en bestuur, moet verander. Hierdie verandering vra strategieë en beplanning wat gebaseer is op doelwitte wat die verlede se foute wil regstel en geleenthede vir vir die wyer publiek wil uitbrei.

Ten spyte van die positiewe ingesteldheid, sal die uitvoer van so ‘n plan uitdagings moet hanteer. Deur hierdie uitdagings aan te pak, sal ons leer om beter vir die onbekende toekoms voorbereid te wees.

Die Adam Tas Korridor voorsien ‘n platform aan Stellenbosch waarvolgens die ontwikkelingsagenda vir die dorp hersien kan word en beter voorbereiding vir die toekoms getref kan word.

Stephen Boshoff is ‘n urbanis en praktiseer stads- en dorpsbeplanning en ontwerp. Hy was die Uitvoerende Direkteur vir Beplanning en Ontwikkeling van Kaapstad, Hubert H. Humphrey Fellow en besoekende Fellow by die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Studies. Hy was saam met Hannes van Zyl, Kelvin Campbell en Bobby Gould-Pratt deel van die kernspan wat begin het met die konsep vir die ontwikkeling van die Adam Tas Korridor. Stephen praktiseer by Built Environment Partnership.

 

[1] Marcelo Gleiser, The Simple Beauty of the Unexpected, 2016.

Leave a Reply